Almal welkom by gesinsfees ten bate van CANSA

'n Gesinsfees, ten bate van CASA, word volgende maand in Centurion aangebied.

Die tafel is gedek vir ‘n gesinsfees op 16 en 17 Mei by SuperSport Park in Centurion, ten bate van die kankervereniging van SA (CANSA). Vermaak vir oud en jonk word beplan. Alles teen die bekostigbare toegang van R50 per volwassene en geen ingangsfooi vir skoolgaande kinders nie.

Die program sluit in boeresport, waaraan almal kan deelneem en baie pret kan hê, en toutrek waaraan verskeie provinsiale spanne en klubs gaan deelneem. Afrigters sal deelnemers die fyner kunsies wys. Dit is die enigste sportsoort waar die wenner die span in trurat is.

Entrepreneurs sal die geleentheid kry om met hul skeppings te spog en aan die publiek te verkoop, terwyl daar ook baie te ete en te drinke sal wees.

‘n Tuc-tuc voertuig sal tussen die parkeerterrein en die toegangshekke beweeg om die wat sukkel om te loop, te vervoer.

Toeskouers hoef ook nie bekommerd te wees dat hulle te min kontant saamdra nie, aangesien FNB ‘n mobiele OTM op die terrein sal hê.

Die pretpark vir kinders het iets vir elke ouderdomsgroep en daar is ook trapkarre waar ouers met kinders kan meeding.

Die National Recycling Forum het ‘n uitstalling om mense bewus te maak van ‘n groen omgewing en ook die belangrikheid van herwinning.

Lise Kuhle het selfs ‘n onderneming uit herwonne materiaal gevestig en sy sal haar produkte uitstal en mense touwys maak oor die potensiaal van rommel wat daagliks op die ashoop beland.

Daar is baie pryse wat gewen kan word, geborg deur Phoenix Films, wat hierdie jaar die fliek Treurgrond uitreik. Van die akteurs sal ook die fees bywoon.

Treurgrond handel oor boeregemeenskappe wat sukkel om hulself met die stygende plaasmoorde te vereenselwig. Om te boer is om die onvoorspelbaarheid van die grond te verstaan. Die grond voorsien, genees en herstel, maar eis sy tol. Sonder die boer is daar geen opbrengs, maar sonder die grond is daar geen lewe nie.

Wanneer die lewe van die boer in gedrang kom, kom die grond ook in gedrang. Fees-ondersteuners kan medelye toon met die boere wat onder moeilike omstandighede kos voorsien.

Daar is ook 16 sangers wat die projek ondersteun: Jakkie Louw, Jak de Priester, Pieter Smith, Blackie Swart, Thys die Bosveldklong, Maroelaboom, Karen Ferreira, Nedine Blom, Jennifer Zamudio, Ronell Erasmus, Karlien Husselman, Mathys Roets, Ricus Nel, Anton Myburgh, Pieter Naude en Thabo Hlongwane.

Hierbenewens is daar is nog ‘n paar verrassings en jong opkomende sangers wat die gehoor gaan vermaak.

Hekke open om 08:00 en sluit saans om 19:30. Vir meer besonderhede gaan na www.gesinsfees.co.za of skakel Susan by 012-361-2845 tussen 08:00 en 13:00.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Exit mobile version