En die Ghoemas gaan aan….

Die glansganse het in hulle mooiste (of dalk nie) vere opgedaag by die Ghoema Musiektoekennings wat by die Pretoria Staatsteater aangebied is.

“Dit is ‘n godswonder dat die mees gehate wit man – naas Breyten Breytenbach – in Suid-Afrika vanaand iets wen.”

So het Steve Hofmeyr, onder luide toejuiging van die skare, Dinsdagaand gesê nadat hy die Ghoema vir die beste musiekvideo, Sit die ligte aan, gewen het.

Hofmeyr het later weer stof in die oë van die ander hoopvolle sangers geskop toe hy ‘n tweede Ghoema in die kategorie beste kontemporêre album deur ‘n manlike kunstenaar vir sy album Toeka 3 gewen het.

Die Ghoema Musiektoekennings is die jaar vir die eerste keer in Pretoria aangebied.

“Dit is wonderlik. Dit voel vir my asof ons terugkeer na die swier van die verlede,” het die sanger Ghapi gesê oor die organiseerders se besluit om die glansgeleentheid (wat vergelyk kan word met die Amerikaanse Grammy-musiektoekennings) nie meer by Carnival City in Brakpan aan te bied nie.

Ghapi was net een van die glansganse wat al vanaf sesuur hulle verskyning op die blou tapyt gemaak het. Hy was nie aan die sy van sy punk-vrou, Ingrid Botha, nie, maar het ‘n “skelmpie”, wat soos ‘n karaker uit 50 Shades of Grey aangetrek het, as metgesel aan sy sy gehad.

“Ek en Ingrid is nie geskei nie,” het hy vining gelag toe die tonge begin klap oor die vreemde meisie. “Haar naam is Eden en sy vorm deel van ‘n nuwe groep, Skelm, wat ek onder my vlerk geneem het.”

Die sangeres Elizma Theron en haar man Nico Grobbelaar het die oë laat rek.

“Wat ‘n mooi paartjie,” was die reaksie van verslaggewers, wat al van vroeg af soos ‘n Bloubul-span langs die blou tapyt geskrum het om tog net onderhoude met bekendes te voer.

Theron het ‘n rooi, stywe skepping aangehad wat haar uurglas-figuur mooi beklemtoon het.

“Ek het vining gewig afgeskud na die geboorte van my dogtertjie,” het sy vertel.

Riana Nel, wat Hofmeyr as topverkoper geklop het, was nie so stylvol soos Theron nie. Sy het drie keer op die verhoog verskyn nadat sy ‘n Ghoema vir liedjieskrywer van die jaar gewen het vir Die regte tyd en as topverkoper van 2014 aangewys is. Sy het ook die kategorie vir gewildste vroulike kunstenaar gewen.

Mense wat langs Rekord gesit het, het gemeen dat haar swart-en-wit-skepping nie haar figuur vlei nie. Sy het ook die hele tyd ongemaklik aan die rok gerem asof dit iewers geknyp en gedruk het.

Hanna Grobler, die sanger Bok van Blerk se vrou, het vir ‘n verrassing gesorg toe haar en Hendri Myburg se kinder-DVD vir Baster die Brak in die kategorie vir beste kinderalbum of -DVD bekroon is.

Sy is nou al sewe maande swanger. “Ek is baie ongemaklik,” het sy gesteun. Grobler het net voor die geleentheid aan Rekord gese dat hulle (sy en Bok) weier om die regte om hul kind se geboorte te dek eksklusief aan ‘n skindertydskrif te gee. “Dit is nie baie nice om dit te doen nie. Daardie foto’s van bekendes wat met hulle babamagies poseer maak my naar.”

Nog ‘n verrassing sluit die nuweling van die jaar in. Vegas (dit is sy verhoognaam) is ‘n nuweling van die Paarl in die Weskaap, wat verlede jaar sy debuutalbum uitgereik het. Hy het nadat hy die toekenning gekry het buite gestaan en die goue trofee aanhoudend papnatsoene gegee. “Ek kan dit nie glo nie.”

Hy was nie die enigste een nie, want anders as Elvis Blue en Dewald Wasserfall, wat ook al Ghoemas vir beste nuwelinge gewen het, is Vegas nog heel onbekend.

Ander wenners sluit in: Lianie May en Jay se Naweeklyfie is as liedjie van die jaar aangewys; die Penkoppe is bekroon vir boeremusiekalbum van die jaar; Laurika Rauch se Wals, Wals Willemien, as beste kontemporêre album deur ‘n vroulike kunstenaar, Wicus van der Merwe se Popster vir beste humor-album, en Heuwels Fantasties se Ja. Nee. Lekker het die toekenning vir beste alternatiewe album gekry. Beide Mynie Grove en Laurika Rauch is vir hulle baanbrekerswerk in die Afrikaanse musiekbedryf bekroon.

En die gewildste manlike sanger? Nie Hofmeyr nie, maar Bobby van Jaarsveld.

Rekord het ook spesiale boodskappe ontvang van ‘n paar ander bekendes: Frankie Du Toit, Ampie en Tim Theron.

Loer hier vir meer oor Dunay se beeldskone rok.

Vir meer Ghoema nuus en videos, klik hier.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

Exit mobile version