Parkrand musikant blink uit op internasionale vlak

Sy het in 2014 begin sing en fokus meestal op jazz musiek, maar sy is ook nie bang om ander genres aan te durf nie.

Anke Strauss (14) van Parkrand is behoorlik besig om haar stempel in die musiekbedryf af te druk.

Dié Graad Agt-leerder van Helpmekaar Kollege het onlangs as deel van die Suid-Afrikaanse-span van Talent Africa deelgeneem aan die Performing Arts International Stars-kompetisie wat hierdie jaar aanlyn deur Pole en Ierland aangebied is.

Strauss het teen verskeie deelnemers vanuit regoor die wêreld meegeding en het nie gesukkel om kers vas te hou nie. Sy het ’n tweede plek Loureate-toekenning verwerf vir Vocal Open (12 tot 15 jaar).

Die talentvolle musikant het verduidelik dat sy ’n video opgeneem het waar sy die liedjie Everybody needs a best friend sing en dit ingeskryf het vir die kompetisie.

“Ek is so geskok en het dit glad nie vewag om ’n plek te kry nie,” het sy gesê.

Strauss, wat ook klavier kan speel, het in ’n musikale huis grootgeword en was nog altyd mal oor musiek.

Sy het in 2014 begin sing en fokus meestal op jazz musiek, maar sy is ook nie bang om ander genres aan te durf nie.

Sy kyk op na kunsenaars soos Celine Dion en Shawn Mendes.

“Ek wil graag ’n professionele sanger word. Musiek is my passie en dit is wat ek vir die res van my lewe wil doen. Ek wil vir mense geluk bring met musiek en emososies uitbring,” het sy bygevoeg.

Haar ma en sangonderwyser, Shani Strauss, kan nie uitgepraat raak oor haar dogter se prestasie nie.

“Sy het ’n natuurlike aanvoeling vir musiek en ek glo sy sal eendag ’n loopbaan uit musiek kan maak,” het die trotse ma gesê.

Verder het die sangeres ook deurgedring na Pacisa se nasionale rondte wat in September plaasvind.

Lees Ook: Impala Park se Lu-Anél skitter met nuwe CD

Lees Ook: Rudi Claase se nuutste album verkoop soos soetkoek

   

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version