Fondsinsamelingkonsert vir countrysanger

Suid-Afrikaanse countrysanger Jason Bradley hou 'n fondsinsameling wat sal help om sy reiskostes te dra om in Nieu-Seeland te gaan optree.

Dertien welbekende plaaslike kunstenaars gaan saamspan om op 27 Oktober 2014 ‘n opwindende konsert van stapel te stuur.

Die konsert sal by die Barnyard Teater, by Emperor’s Palace plaasvind.

Met kunstenaars soos Gerhard Steyn, Anaïs, Lance James, Ernie Bates, Kleefklank, Juandré Marais, Juan Boucher, Rinél Day, JJ Stephens, Ricky Faber, Richard van der Westhuizen, Rooies, Touch of Class en, natuurlik, Jason Bradley, sal dié konsert ongetwyfeld een van verskeidenheid en topvermaak wees.

Bradley het op internasionale vlak al sóveel opspraak gemaak, en dít is hoe hy genooi is om in Januarie 2015 in Nieu-Seeland te gaan optree.

“Ek is genooi na die Marton Country Festival wat op 16, 17 en 18 Januarie gaan plaasvind, en is bevoorreg om die eerste Suid-Afrikaner te wees wat gevra is om die internasionale hoofkunstenaar by dié fees te wees,” vertel hy.

“Boonop gaan ek ook in die daaropvolgende naweek by die fees van ligte in Plymouth optree. Hierdie feeste lok jaarliks meer as 100 000 mense.

“Ek het nooit gedink dat iemand my sou kontak om as hoofkunstenaar in ’n ander land op te tree nie – dit is waarlik ’n groot eer.”

Jy mag Bradley op Facebook volg by @jasonbradley83.

Exit mobile version