Wen Kokkedoor 2 Versamelresepte!

Die tweede boek van die uiters gewilde realiteitstelevisiereeks, Kokkedoor, wat van April tot Junie op Kyknet uitgesaai is, is onlangs vrygestel.

Resensent: Ischke de Jager; ischke@caxton.co.za

Boek: Kokkedoor 2 Versamelresepte

Saamgestel deur: Errieda du Toit

Uitgewer: Human en Rousseau

Beoordeling: Dit herinner my aan ’n resepteboek wat spesiaal saamgestel is vir daardie tradisionele Afrikaanse-familie samekoms.

Die doel van die reeks was om die heel beste kokke in Suid-Afrika op te spoor, wat nie net met herinnering en nostalgie kan kook nie, maar ook hartskos op so ’n manier kan aanbied dat dit met trots die 21ste eeu ingedra word.

Die kookboek bevat die watertand-resepte van die reeks en daar word al te lekker agter die skerms gekuier.

Hierdie boek sluit ook die resepte van die beoordelaars in, asook die resepte van die bekende kospersoonlikhede wat op die Kokkedoorstel ingeloer het.

Kokkedoor 2 Versamelresepte is ’n kookboek wat saamgestel is uit interessante, unieke en besonderse disse wat perfek is vir spesiale en groot geleenthede.

Dit bestaan uit tradisionele resepte, maar met ’n kinkel. Daar is iets vir elkeen om aan te smul – soet of sout – in hierdie boek; van ligte etes tot groot maaltye.

Volgens Errieda du Toit, vertoef hierdie nuwe versameling van kos in die meer onlangse verlede.

“Die pendulum swaai van die ouwêreldse grasie en swier uit die 19de eeu tot die tong-in-die-kies-koskitsch tipies van die 1950’s: van die laaste landelikheid voor die groot verstedeliking tot die era van die inryrestaurante, vingerhappies en allegaartjies,” sê sy.

Ek sal Kokkedoor 2 Versamelresepte aanbeveel vir gesoute kokke wat heelwat ondervinding agter die potte het.

Staan ’n kans om ’n kopie van Kokkedoor 2 Versamelresepte te wen, deur die volgende vraag te beantwoord: Die hoeveelste boek van die gewilde realiteitstelevisiereeks, Kokkedoor, is onlangs vrygestel?

SMS jou naam, die woord “Kokkedoor” en jou antwoord na 35718, teen September 9. SMSe

kos R1.50 elk.

Die wenner sal telefonies in kennisgestel word. – @IschkeBoksburg

Exit mobile version