Geleentheid om deel te wees van mans sanggroep

Showtime Records gaan binnekort oudisies doen vir twee nuwe lede vir die mans-sanggroep, Il Quinto.

Die groep se fokus sal geskuif word om buiten die internasionale mark, ook die plaaslike Afrikaanse mark te dien.

Il Quinto bestaan uit vyf manlike sangers en die groep het reeds groot sukses in die buiteland behaal met duette wat saam met, onder andere, die Britain’s Got Talent wenner, Paul Potts, en die Amerikaanse superster, Taylor Dayne, opgeneem is.

Die produksie van die groep se debuut-album, Facing a Miracle is in vyf lande, onder andere Swede, Nederland, België, Britanje en Suid-Afrika gedoen en bestaan hoofsaaklik uit splinternuwe werke wat geskryf is deur top internasionale liedjieskrywers.

Aansoekers moet verkieslik die volgende eienskappe besit om in aanmerking te kom:

Aantreklik, met sterk solostem wat 100 persent nootvas moet wees; moet ten minste in Afrikaans, Engels en Italiaans kan sing; ’n charismatiese verhoogpersoonlikheid hê; ondervinding en begrip van harmonisering; ondervinding van stemproduksie; en bereid wees om te reis.

Aansoeke moet die volgende bevat:

* MP3 opname (demo).

* Biografie.

* Profiel foto.

* Repertoirelys.

* Kontakbesonderhede.

Volgens bogenoemde kriteria gaan ’n kortlys saamgestel word en die kandidate sal dan ’n lewendige oudisie moet doen.

Die kandidate op die kortlys sal persoonlik gekontak word en ’n datum en tyd vir die oudisies sal bevestig word.

Manlike sangers tussen die ouderdomme van 20 en 35 kan aansoeke deurstuur na carien@showtimerecords.co.za of lambisproductions@wbs.co.za.

Demo’s moet Showtime Records nie later as Maandag, 30 Junie om 5nm bereik nie. – @IschkeBoksburg

Exit mobile version