“Hou ons dop!” sê Robbies se nuwe hoof

So belangrik as wat die ontwikkeling van die potensiaal van my leerders is, is die bemagtiging en ondersteuning van my personeel

WITRIVIER – Groot opwinding heers by Hoërskool Rob Ferreira oor die aanstelling van mnr. Dawie Oberholzer as nuwe hoof. “My droom vir Rob is om op ‘n groter publieke platform die ondersteuning en erkenning te kry vir die uitnemende opvoeding en onderrig wat by hierdie skool plaasvind,” vertel hy vanuit sy kantoor. Personeel het sommer op die eerste dag al geleer dat kommunikasie en ‘n oopdeurbeleid vir mnr. Oberholzer baie belangrik is. Hy is n hoof wat oogkontak maak en binne n dag sy personeel op die naam kon noem. Hy burger onmiddelik vertroue in terwyl jy ook dadelik besef dat hy nie sal skroom om ferm te wees waar dit nodig is nie.

Hierdie nuwe hoof het in 1981 aan die Hoërskool Lydenburg matrikuleer waarna hy onderwys aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer het. Nadat hy sy graad verwerf het, het hy sy verpligte diensplig by die Infanterieskool in Oudshoorn voltooi. Daar het sy sterk leierseienskappe gou duidelik geword en is hy tot luitenant bevorder.

In 1988 word hy by die Hoërskool Sybrand van Niekerk in Sabie aangestel waar hy bevorder word tot adjunkhoof en waar hy ook die rol van senior koshuisvader vertolk het. Gedurende hierdie tyd het Mnr Oberholzer ook drie verdere kwalifikasies in die onderwys verwerf,naamlik ‘n B.Ed Honneurs in Didaktiek, ‘n Gevorderde Sertifikaat in Onderwysbestuur en ‘n Verdere Diploma in Jeugweerbaarheid. Na ‘n verbintenis van 25 jaar met die skool aanvaar hy die hoofpos by Rob.

Mnr. Oberholzer stel baie belang in assessering in onderwys en vandaar sy betrokkenheid by die matriekeindeksamen waar hy verskeie kere aangestel is as hoofnasiener vir Aardryskunde en as provinsiale eksaminator vir sosiale wetenskappe in graad 9. Hy beywer hom vir ‘n groter fokus op die ontwikkeling van kritiese denke by kinders.

“So belangrik as wat die ontwikkeling van die potensiaal van my leerders is, is die bemagtiging en ondersteuning van my personeel”, bevestig hy. “Ek wil self soveel groei sodat ek die mense om my kan inspireer om self hoë aspirasies te hê.”

Ten spyte van baie uitdagings in die onderwys is mnr Oberholzer baie positief oor die toekoms van Rob Ferreira. Hy sien die skool as ‘n baken van uitnemendheid en beklemtoon sy visie dat daar groot groei vir Rob voorlê.

“Hoërskool Rob Ferreira gaan ‘n sleutelrol speel in die gemeenskap van Witrivier en die groter Laeveld. Die skool gaan beslis toonaangewende bydraes maak deur die benutting van ons reeds uitstaande fasiliteite, die gebalanseerde leerders wat ons die wêreld instuur en die bydrae wat Rob tot ‘n suksesvolle, hoogs funksionerende samelewing maak. Mnr Oberholzer beklemtoon sy toegewydheid daartoe om alle rolspelers in die breër samelewing tot ‘n hegte netwerk met Rob saam te bind. Hy sou graag wou sien dat daar ‘n groter bewustheid en betrokkenheid in die gemeenskap sou kom oor wat by Rob gedoen word. Hierdie is tog immers die plek waar gewone kinders die geleentheid kry om buitengewone dinge te doen. Dis tyd dat meer mense kennis neem van Rob. So hou ons dop!”

‘n Mens som dadelik hierdie saggeaarde man op as iemand wat baie lief is vir kinders en ‘n opregte waardering het vir die verskil wat die onderwysers in sy skool maak. Maar, ten spyte van die passie waarmee hy oor sy loopbaan in die onderwys praat, helder sy gesig dadelik op as hy praat oor sy eintlike grootste prestasie en trots: sy eie twee pragtige en baie talentvolle dogters, Lanique (10) en Dehandré (14).

Die leerders en personeel van Rob sien uit na die leiding wat hulle van Mnr Oberholzer gaan ontvang. Dit is alreeds vir hulle baie duidelik: hy stap nie alleen voor nie, hy stap langs diè vir wie hy omgee!

Related Articles

Back to top button