Man word wakker met mes teen keel

“Madala, lê stil. Jy beweeg niks of ek maak jou dood.” Dis die woorde waarmee mnr. Ivan Schutte (75), met ‘n mes teen sy keel 'n paar nagte gelede wakker gemaak is

BADFONTEIN -“Madala, lê stil. Jy beweeg niks of ek maak jou dood.”

Dis die woorde waarmee mnr. Ivan Schutte (75), met ‘n mes teen sy keel ‘n paar nagte gelede wakker gemaak is. “Dis ‘n ondervinding wat ek nie my grootste vyand toewens nie”, vertel Schutte terwyl hy met sy ysblou oë oor sy plaas staar. Hy is verlede Donderdag omstreeks 22:00 deur die 29-jarige Willem Huscher en 35-jarige Seun Madama op sy plaas in Langdraai oorval. “Ek het wakker geword met ‘n geweldige gewig op my bors. Een van die mans het op my gesit en die mes styf teen my keel gedruk. Ek het probeer praat, maar hy het die mes net dieper gedruk.”

Die mans het die kluis se sleutels geëis en R30 000 gebuit, vertel Schutte. Twee van Schutte se vuurwapens, ‘n semi-automatiese haelgeweer sowel as ‘n .38 special is ook gevat. “Ek het my volle samewerking gegee en dadelik vir hulle gesê waar die kluis se sleutels is, maar dit het hulle nie gekeer om my te verniel nie”, sê hy. Schutte is met ‘n koord vasgebind, op die grond gegooi en herhaaldelik geskop. Hy wys na sy bloukolle op sy arms en vertel hoe die voorval plaasgevind het. “Hulle het te voet hierheen gekom. Ek het ongeveer 21:00 die hond hoor blaf en ek het uitgegaan om te kyk. Ek het ‘n koedoe ‘n entjie van die huis af sien staan. Ek het teruggeklim in die bed en gaan slaap.”

Schutte vertel egter dat hy nie besef het dat die hond “anders” as gewoonlik geblaf het nie. “Ongeveer ‘n uur later het ek wakkergeword met die mes teen my keel.” Hy vermoed dat die mans gesien het waar die hond is en besluit het om eerder aan die agterkant van die huis in te kom. “Die een booswig het die boonste klein venstertjie se knip losgemaak waarna hy toe die groot venster van binne af vir sy makker oopgemaak het,” vertel hy. “Ek het een van die manne se stem herken. Dit was die blanke man.”

Hy bly ‘n ruk stil en voeg dan by dat hierdie einste man, die 29-jarige Willem Huscher, reeds voorheen by hom ingebreek het. Huscher was vroeër een van sy werknemers. “Ek onthou sy stem en die reuk was veral opvallend. Dit was ‘n effense soet reuk wat in die lug gehang het, ek vermoed die van dagga.”

Mnr. Andries Buizedenhout van die Badfontein Landowners Internal Safety Serives (BLISS), het bevestig dat Huscher se ma haarself ongeveer twee jaar gelede in Schutte se huis doodgeskiet het. Kaptein Saarjie Roos, woordvoerder van die SAPD, het verder bevestig dat Schutte verskeie kere van Huscher as sy “stiefseun” gepraat het, maar dit is onbekend of hy en die vrou getroud was.

Steelburger/Lydenburg News het vertroulik verneem dat Huscher op die dag van sy ma se begrafnis vir Schutte gesê het dat hy hom sal terugkry. Bezuidenhout, sowel as Schutte het egter die moontlikheid van ‘n wraak aanval ontken. “Ons is bewus daarvan dat Schutte al verskeie klagtes teen die aanvaller ingedien het, maar dat die beskuldige elke keer losgekom het.”

Schutte vermoed dat die rede van die aanval bloot was omdat die verdagte die opset van sy huis baie goed geken het. Bezuidenhout, wat eerste op die toneel was, het dadelik die leidrade gefynkam en gesien die aanvallers met Schutte se bakkie op die vlug geslaan het. Volgens Bezuidenhout is die polisie onmiddellik ontbied en die gemeenskap is van die voorval in kennis gestel via SMS’e en sosiale media. Danksy Bezuidenhout se flink optrede, en vroeëre betrokkenheid in die SAPD, het die boodskap vinnig versprei en die N4 is onmiddellik gepatrolleer.

“Daar is vroeg die volgende oggend deur TRAC vasgestel dat die voertuig nie in die rigting van Machadodorpgery het nie nadat sekuriteitskameras deur die Machadodorp-polisie nagegaan is”, vertel Bezuidenhout. “Ons het egter ‘n oproep uit Johannesburg ontvang wat ons ingelig het waar die persoon moontlik heen kon vlug,” sê Bezuidenhout.

Die polisie in die spesifieke area is onmiddelik ontbied en Huscher en Madamo is binne 24 uur in die Nelspruit-omgewing vasgetrek. Volgens verskeie bronne blyk dit of die verdagtes reeds van ‘n baie vroeë ouderdom by dagga- en dwelmhandel betrokke was. Bezuidenhout het ook bevestig dat dieselfde man voorheen op plase in die Badfontein-omgewing skote afgevuur het. Schutte het die Huscher as ‘n “gewoonte-misdadiger” en ‘n “psigopaat ” beskryf en sy dankbaarheid uitgespreek oor die feit dat hy eindelik vasgetrek is.

“Ek het opnuut besef niemand is veilig nie en dis nie die letsels op my lyf wat gaan bly nie, maar die in my kop.” Die woordvoerder van die SAPD, kapt.Saartjie Roos, het bevestig dat beide vuurwapens sowel as Schutte se voertuig teruggevind is. ‘n Klag van huisroof is teen hul geopen en is uitgestel na 26 November.

Exit mobile version