94.7 Willie Smit

Lydenburgers het Sondagoggend op die punte van hul stoele gesit en stip na die kassie gekyk om te sien hoe ‘n stukkie geskiedenis voor hul afspeel toe die 20 jarige Willie Smit oor die wenstreep in een van die grootste padfietswedrenne in Suid-Afrika jaag. Met slegs drie kilometer tussen hom en die Momentum 94.7 Cycle …

Lydenburgers het Sondagoggend op die punte van hul stoele gesit en stip na die kassie gekyk om te sien hoe ‘n stukkie geskiedenis voor hul afspeel toe die 20 jarige Willie Smit oor die wenstreep in een van die grootste padfietswedrenne in Suid-Afrika jaag. Met slegs drie kilometer tussen hom en die Momentum 94.7 Cycle Challenge-titel het Smit sy finale skuif gemaak en weggebreek van JC Nel (Team MTN-Qhubeka) wat met ‘n verbete eindpoging na die eindstreep op pad was.

In‘n tyd van twee uur, agt minute en twee-en-veertig sekondes (2:08:42) het Smit met arms omhoog nie net die grootste titel tot dusver in die seisoen ingepalm nie, maar ook trane van blydskap in menigde Lydenburgers se oë laat opskiet.

Smit vertel dat dié wedren uitdagend en hard met tye was, veral toe hulle deur die stedelike gedeelte hul weg moes baan. “Soos wat ons nader aan die einde gekom het, was dinge al meer chaoties, maar ek kon gelukkig daarin slaag om weg te glip van die laaste peloton en aansluit by Nel wat die groep op daardie stadium gelei het”, vertel hy. Met ‘n aanvanklike kat-en-muis-speletjie tussen die twee wêreldklas-fietsryers het Smit met briljante tydsberekening Nel verbygesteek.

“Ek het gesien Nel sukkel met die laaste opdraande en daarom het ek alles in die stryd gewerp en daarin geslaag om solo in te kom,” vertel Smit nederig. “Ons (Team Bonitas), het hard gewerk deur die jaar en ons wou 2013 graag op ‘n hoë noot afsluit.

“Dis wonderlik om op die podium te staan, maar die oorwinning is soveel beter as een van jou spanmaats regs langs jou staan,” sé Smit. Herman Fouche, wat vroeër die jaar die Cape Argus Pick n Pay Cycle Tour gewen het en ook vir Team Bonitas ry, het tweede geëindig terwyl Johann Rabie (Nuwater) die derde posisie beklee het.

Smit het reeds van ‘n baie jong ouderdom af begin om diep spore in die sportwêreld te trap. Op 14 het hy die eerste Suid-Afrikaanse seun geword wat genooi is om vir die Amerikaanse Junior Gholfspan in Skotland te gaan speel en reeds op skool op verskeie sportgebiede provinsiale kleure verwerf, vertel sy ouma, Joy Smit, terwyl sy na al sy toekennings teen sy kamermuur wys en sy Springbokbaadjie uit sy kas uithaal. Dis duidelik dat fietsry nie die enigste sport is waarin hy uitblink nie en mens verstaan waarom Conrad Langenegger hom as ‘n begaafde sportman beskryf. “Smit sou van golf, krieket sowel as rugby ‘n loopbaan kon maak”, vertel Langenegger, assistentbestuurder van Longtom Cycle en Sport in Lydenburg, wat al ‘n lang pad saam met Smit stap.

“Hy is begaafd op soveel terreine, maar dit was egter fietsry wat op ‘n 15-jarige ouderdom sy hart gesteel het”. Alhoewel Smit tans in top vorm is en by die dag titels tot sy naam voeg, het hy besluit om volgende jaar meer tyd aan sy studies te bestee. Hy is tans ‘n tweedejaar-regstudent aan die Universiteit van Pretoria. Maar volgens sy ouma sal haar veelsydige en godsdienstige kleinseun, soos wat sy hom beskryf, nie van die fiets af wegbly nie.

“Hy sal in 2014 slegs afstand doen van internasionale wedrenne, maar by dié in Suid-Afrika sal hy steeds te siene wees,” glimlag sy. “Ek sê altyd vir hom sy beker loop oor van soveel seëninge en talente en ons weet hy sal dit nog baie ver in die lewe bring. Maar hy is ‘n nederige kind en sy voete is plat op die aarde. Sy pad lê oop vir hom en ons is so lief vir hom.”

Smit en die res van die Bonita span vertrek eersdaags om aan die Afrika Kampioenskappe in Egipte te gaan deelneem. Smit sal aan die individuele- sowel as spantydtoets deelneem asook die padfietsren. Ons wens hom alle sterkte toe en wens hom geluk met sy uitsonderlike prestasie.

Die volgende Lydenburgers het ook aan die wedren deelgeneem en volgende week gaan loer Steelburger/Lydenburg News in by ‘n paar om te hoor wat hul ervaring was:

Dries Strydom

Juan-Pierre Strydom

Theo Schulze

Wilmar Trimpleman

Martin Barton

Lourens Beeslaar

Thinus van den Berg

Riaan Wortel

Hercules Coetzee

Le-Ane Ryens

Phillip Whitaker

Anton Lombaard

Antje Lombaard

Jeanette Kruger-Hibbins

Blikkies Kruger

Rehani Kruger

Marcelle Bakker

Isak Botha

Andre du Plooy

Berryl du Plooy

Hanlie Roos

Christiaan Myburgh

Oom Roelf du Toit (75 jaar)

Related Articles

Back to top button