Nog reën vir die Laeveld verwag

Die Laeveld sou gister en vandag (Vrydag) weer 'n bietjie sonskyn geniet, maar volgens die weerdiens is daar Saterdag weer 'n 60% kans op reën, met 'n maksimum temperatuur van 27°C

NELSPRUIT – Die Laeveld voel die afgelope week soos Engeland – grys, somber, nat en koud.

Die son was van Vrydag af verskans agter ‘n wolkkombers en reën het teen die aand begin uitsak. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weerdiens het nie gereageer op navrae om Laeveldse reënvalsyfers te verskaf nie, maar volgens ‘n inwoner van Steiltes, wat getrou lesings byhou, het daar vanaf Vrydag tot Maandag 10mm reën geval. Daardie nag het daar 20mm uitgesak – vyf milimeter minder as ‘n duim in die ou taal.

Dinsdagaand is daar maar een milimeter gemeet. Die Laeveld sou gister en vandag (Vrydag) weer ‘n bietjie sonskyn geniet, maar volgens die weerdiens is daar Saterdag weer ‘n 60% kans op reën, met ‘n maksimum temperatuur van 27°C. Sondag is die reënvoorspelling 60%, maar die kwik gaan net tot 22°C styg. Maandag en Dinsdag gaan nie veel warmer wees nie, met ‘n 30% kans op reën.

Sapa het intussen berig dat die provinsiale departement van samewerkende regering ‘n vloedwaarskuwing vir Mpumalanga uitgereik het. “Munisipaliteite is gevra om op volle gereedheidsgrondslag te wees,” het die woordvoerder, mnr. Simphiwe Kunene gesê. Hy het mense aangeraai om weg te bly van rivieroewers en damwalle en nie brûe wat oorloop, oor te steek nie.

Volgens inligting wat me. Bessie Pienaar, kommunikasiebeampte by Mbombela Munisipaliteit verskaf het, staan Klipkopjedam tans op 97,6%, Longmere is 815% vol en Primkop 100,8%.

 

Related Articles

Back to top button