Local newsNews

Orange in 2013, die lekkerbekke se lekkerste

As hoofgereg was daar haar beproefde varkrol met heuning glanssous bedien met romerige roosmaryn

Orange Restaurant, bekend vir sy uitstekende kos en pragtige uitsig oor die stad, is aangewys as die lekkerste eetplek in Nelspruit en omstreke.

Die Laeveld Lekkerbekke, ‘n informele kring van 30 uiteters wat maandeliks iewers aansit, wys jaarliks ‘n gunsteling aan. Buiten die mees voortreflike ete, word die geselligheid van die aand en die lekker kuier onder mekaar ook in berekening gebring.

Met die eerste jaar van samesyn was dit ‘n aandjie by Orange wat die beste onthou word. Dis daarom dat die Lekkerbekke dan 2014 met ‘n vieringsete by Orange afgeskop het – met dieselfde kos en dieselfde wyn. Op Lee Anne Benade se spyskaart was daar weer bief carpaccio met Nederburg se Air Hawk, ‘n houtbeleë sauvignon blanc as vooregerg en lemmetjie-gegeurde garnale en neut couscous saam met Nederburg se Anchor-man, ‘n houtbeleë chenin blanc.

As hoofgereg was daar haar beproefde varkrol met heuning glanssous bedien met romerige roosmaryn kapokartappels en groente voorgesit saam met ‘n keuse van Nederburg se Brew Master, ‘n Bordeaux versnit of die Motorcycle Marvel – ‘n rooi versnit in die Ryn of Rhone-styl. Nagereg was ‘n bessie en amaroela mousse pavlova met Nederburg se Noble Late Harvest.

Die wyne is uit die beperkte Nederburg Heritage Heroes reeks wat net in die restaurantmark beskikbaar is. Die reeks is ter viering van die vroeëre wynmakers van Nederburg. Elke wyn is gemaak volgens die voorkeur van elk van hierdie Kaapse wynpioniers en vernoem na elkeen se persoonlike voorliefde. Hierdie uitsoekwyn is tans nog net by Orange Restaurant beskikbaar. Die aanduiding is ook dat die ewe gewilde Zest Restaurant van GT Lundie op die pad na Lydenburg ook binnekort hiervan beskikbaar sal hê.

Die Lekkerbekke is ook nie bank vir hotelkos nie. Etes in sy eerste jaar van samesyn by die Karula Hotel, Bundu Lodge en Shepard Boutique Hotel was onder die mees gewilde toe daar einde laas jaar punte gegee is.

Related Articles

Back to top button