Hard newsNews

Krokodil-slagoffer herstel vinnig na aanval

Al wat deur my kop gegaan het toe die krokodil my onder die water intrek, is dat ek nou moet baklei om te bly lewe . Ek het ‘n vrou en twee seuns om voor te sorg en as mens nie baklei nie dan verloor jy verseker.

HAZYVIEW – Mnr. Mario Ferreira (41) wat verlede Vrydag deur ‘n krokodil beetgekry is toe hy visgevang het in ‘n plaasdam in die omgewing, is hierdie week uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan.

Hy is sewe keer gebyt aan onder meer sy bene, sy en hande en het lelike krapmerke opgedoen. Tog het hy nie een fraktuur of skade aan sy interne organe opgedoen nie.

“Ek was bewus van die feit dat daar ‘n krokodil in die dam was, maar die reptiel was drie weke gelede deur iemand gesien. Ek en altwee my seuns was die week voor die aanval ook op die dam met ons kanoes en ons het nie die gedierte gewaar nie,” het Ferreira gesê.

Hy wou gou sy lyne inkatrol en is toe alleen uit op die kanoe terwyl sy seun, Dawie (16) in die voertuig bly sit het. Hy was besig om die tweede lyn in te trek toe hy skielik ‘n harde slag teen sy sy voel. Dit was die krokodil wat uit die water gekom het om hom te gryp.

Sy kanoe het omgeval en die gedierte het hom onder die water ingetrek.

Die krokodil het Ferreira se duim vagesbyt en in die water begin rol.  “Dis toe dat ek besef het nou moet ek baklei vir my lewe. Op ‘n stadium het ek probeer om sy bek toe te druk terwyl hy nog my duim beetgehad het. Hy het my skielik gelos en een kant in die water gaan lê met sy kop weggedraai van my af. Ek het toe kans gehad om op te kom vir asem en het vir my seun geskree om hulp te kry.”

Volgens Dawie was sy pa so ongeveer drie minute onder die water voor hy hom sien opkom het. Terwyl hy hulp gaan soek het, het Ferreira dit reg gekry om by sy kanoe uit te kom, dit om te rol en terug te klim.  Hy het met sy hande geroei totdat hy by die wal uitgekom het. “Ek was te bang om in die kanoe te bly en wag vir hulp, in geval die krokodil my weer sou aanval. Ek het myself opgetrek teen die wal uit en ‘n hele ent ver van die wal gestap. Kort daarna het hulp opgedaag.”

Dokters meen dat Ferreira baie gelukkig is omdat geen senuwees beseer is, ribbes gebreek of slagare raakgebyt is nie.

Dr B.L. Veenemans wat tans sy vordering monitor het aan Laevelder gesê dat Ferreira goed herstel  van sy beserings.

Ferreira sê dat hy nie kan verduidelik hoekom die krokodil hom gelos het nie. “Maar ek glo die duiwel was besig met my en toe die Here sien dat dit erg raak, toe stop Hy dit. Hy het vir my ‘n tweede kans gegee en nou is dit tyd dat ek vir Hom werk.”

Mense in die omgewing wou aanvanklik die krokodil skiet, maar Ferreira het hulle versoek om dit nie te doen nie.  Die dier is verskuif na ‘n krokodilplaas in Hayzyview waar hy nie verder ‘n gevaar vir die publiek sal wees nie . “Ek kan nie die krokodil blameer nie.  Hy was in sy natuurlike omgewing en dit is ek wat in sy habitat in beweeg het.”

Ferreira kry wel nagmerries na die voorval. “Ja, ek kry nagmerries waar ek my seun op die kanoe sien sit.  My vrou, Yolande, kry ook nagmerries. Behalwe vir dit, gaan dit goed met ons en my wonde genees mooi. Die steke kom uit aan die einde van die maand en die gips aan my hand sal na verwagting einde Maart verwyder word. En ja, ek gaan weer visvang!”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button