Nelspruit vrou toegesnou as “wit teef”

'n Vrou is na bewering sonder rede as 'n wit teef toegesnou en aangerand deur lede van die polisie.

NELSPRUIT – Sy is teen die bors geslaan met die vuis en ‘n R5-geweer is onder haar ken gedruk, vertel ‘n plaaslike vrou oor ‘n voorval waarby lede van die Taktiese Reaksie-eenheid (TRT) van die SAPS betrokke was.

Die 46-jarige vrou en haar verloofde het Vrydag omstreeks 16:15 voor ‘n huis in Van Rooyen-straat vir ‘n eiendomsagent gewag. Hulle het ‘n BMW met vier of vyf insittendes opgemerk wat naby aan hulle parkeer het, maar nie werklik aandag daaraan geskenk nie. ‘n Wit Mercedes Benz-minibus sonder nommerplate met polisielede het ook opgedaag. Hulle het nogal bespiegel wat in die area kon gebeur het toe hulle al die polisielede sien, vertel die vrou. “Ewe skielik het hulle ons kar omsingel en wapens op ons gerig,” sê sy.

Volgens haar het die polisiemanne op hulle geskree om uit te klim sodat hulle die voertuig kon deursoek. Sy het geweier en is deur een van die mans aan die arm uit die motor geruk. Sy erken, “Ek hét hom iets toegesnou oor die manier waarop hulle ons behandel het, en toe slaan hy my teen die bors met die vuis en noem my ‘n “wit teef”.” Sy het op die grond geval. Die eiendomsagent, wat intussen ook opgedaag het, het die voorval gade geslaan. “Dit was baie erg om te sien; baie geweldadig en my kind wat dit moes aanskou was histeries,” volgens haar.

Lede van Nelspruit SAPS, Mbombela- en die Mpumalanga-verkeersdepartement het ook intussen opgedaag. Die slagoffer beweer dat niemand gepoog het om die lid se agressiewe behandeling teenoor haar te keer nie. Hy het haar herhaaldelik ‘n “wit teef” genoem, en op ‘n stadium sy vuurwapen onder haar ken gedruk. Sy is getraumatiseer deur die ervaring en het bygevoeg, “Sê nou net ‘n skoot het afgegaan?”

Een van die mans het na bewering aan haar verloofde gesê dat dit hierdie die nuwe Suid-Afrika is en dat “witmense” nie moet dink hulle kan wegkom met alles nie.”Ons weet nou nog nie wat ons verkeerd gedoen het nie!” is haar verslae reaksie.

Sy het haar dogter gebel asook die Anti-Police Brutality and Corruption-organisasie. “Toe hulle hoor ek praat met die man, het hulle in die minibus weggery,” onthou die vrou en haar dogter wat intussen op die toneel aangekom het.

‘n Saak van aanranding is by die polisie aanhangig gemaak en sy gaan vir sielkundige berading om die trauma te verwerk, sê sy.

Die saak word deur die onafhanklike polisie-ondersoekeenheid (Ipid) ondersoek.

Hierdie saak volg kort na ‘n Hooggeregshofbevel in die saak van ‘n ander Nelspruiter, mnr. Jan Coetzee, wat deur lede van die TRT met rubberkoeëls in 2011 geskiet is. Dié bevel is op 7 Augustus in Pretoria uitgereik. Die regter het gelas dat die minister van polisie 100% aanspreeklik vir die skade is wat die eiser kon bewys. Coetzee eis R878 000 – ‘n geraamde bedrag van die skade wat hy gely het.

Die berugte TRT het op 12 Februarie 2011 op Coetzee se skoonpa, mnr. Hennie van Zyl, se eiendom toegeslaan en Coetzee só erg geskiet dat hy vier dae in die hospitaal moes deurbring.

Lees die opvolgberig oor die saak hier.
Lees oor beweerde intimidasie na die saak hier.

Exit mobile version