Hard newsNews

Sportkwotas krap lelik

Die minister van sport, mnr. Fikile Mbalula het die afgelope week kritiek oor sy sportkwotas-uitspraak uit verskeie oorde ontvang.

NELSPRUIT – Mbalula het gedreig dat indien die verhoging nie tot 60 persent deur sportliggame in werking gestel word nie, sal finansies en enige ander vorm van steun weerhou word. Dit geld vir ‘n verskeidenheid sportsoorte soos rugby, krieket, atletiek, netbal en sokker.

Laevelder het ‘n jaar gelede oor dieselfde kwessie berig. Reeds in 2004 het die voorgestelde kwota-stelsel in rugby humeure laat opvlam. Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se uitvoerende raad en sy transformasiekomitee het in Augustus dit goed gedink om kwotas terug te bring.

Volgens Saru het rugbyunies daarin misluk om genoeg spelers van ander rasse in spanne in te sluit. Daardie tyd het die reëls die volgende gestipuleer – daar moet minstens sewe lede van ander rasse in elke span van 22 wees, wat aan vanjaar se Vodacombeker-reeks deelneem, waarvan vyf in die beginspan moet wees. Twee van dié moet voorspelers wees.

Die Steval Pumas het tans 32 spelers waarvan 10 swart is. Dus voldoen hulle aan die bogenoemde reël, maar as die nuwe maatreël ingestel gaan word, kan dit die span duur te staan kom. Die president van die Pumas, mnr. Hein Mentz sê dat hy transformasie in rugby ten volle ondersteun, maar die span het eenvoudig nie genoeg swart spelers om aan die versteistes te voldoen nie. “Demografie speel ‘n uiters belangrike rol en ons spreek transformasie hoog aan. Die enigste verskil tussen ons en die Westelike Provinsie, is dat ons ‘n ander dinamika het. Ons sit met ons hande in ons hare oor die kwessie en die regering steur hulle net nie daaraan nie.”

Hy meen verder dat die WP baie Kapenaars het wat rugby speel en dat die Shangaans nie rugby kan speel nie. “Ons is kleurblind as dit oor meriete gaan. Almal moet dieselfde geleentheid gegun word.”

Sinovuyo Nyoka, Marcello Sampson, Wilmaure Louw, Deon Scholtz, Aswim Scott, Rosko Specman en Bernardo Botha van die Pumas verdien om saam met die groot honde te blaf. Specman is een van dié voorbeelde.

Die plaaslike sokkerspan, Sivutsa Stars het 17 spelers wat almal swart is. Gaan dié stelsel op sokkerspanne ook van toepassing wees? Deur net swart spelers te kies om die getalle te kry, boet jy gehalte in en word hulle gedwing om op ‘n vlak te speel waarvoor hulle nog nie gereed is nie. Hoeveel belowende jonges se loopbane is nie al verwoes deur die beheptheid met kwotas nie? Die woordvoerder van die Stars, mnr. Charles Nkosi meen egter dat dit ‘n goeie idee is om die verskeie sportkodes te ontwikkel en te balanseer.

“Sport word as die versoeningsmiddel in ons land gesien. Transformasie kan die oplossing wees om ongesienne talent te kweek en huidige spelers s’n op ‘n jong ouderdom te ontwikkel. Dié wat uit die maatreëls voordeel gaan trek, gaan ongelukkig moet plek maak vir ander sportsmanne.”

Nkosi stem wel saam dat indien die reël van so aard moet wees dat 60 persent van die spelers wit moet wees, dat die besigheid gaan swaar kry. “Spelers gaan dan ingesluit word wat geen passie hoegenaamd vir die sport het nie of hulle is nog besig om te ontwikkel.”

Die woordvoerder van Krieket Suid-Afrika wat óók in beheer van Mpumalanga Krieket-unie is, mnr. Altaaf Kazi het tot op hede geen terugvoer oor hulle gevoel gegee nie.

Oops! We could not locate your form.

Related Articles

Back to top button