Geveg in Life Midmed kindersaal

'n Pa van 'n kleuter wat in die kindersaal van die Life Midmed Hospitaal behandel is, is deur 'n suster met 'n krat oor die kop geslaan.

‘n Omgekrapte mnr. André Maree kan steeds nie glo dat daar totale chaos in die kindersaal uitgebreek het en dat hy die slagoffer van die aanval was nie. Hy was só geskok dat hy dadelik sy kind uit die saal ontslaan het.

Hy en sy vrou, Lisinda, was omstreeks 21:00 nog by hul driejarige dogtertjie, Liné, wat vir longontsteking behandel is.

Hy het skielik ‘n geweldige geraas gehoor “soos koppies wat breek en meubels wat rondgegooi word.”

Toe hulle in die kindersaal se gang afkyk, het hy gesien dat een van die ander pa’s op ‘n verpleegster skree, wat besig is om van hom af weg te loop. “Al die pasiëntjies het in die gang gestaan en kyk!”

Mnr. Maree sê die verpleegster het die heeltyd weggeloop, met die man wat agterna loop en op haar skree.

“Die volgende oomblik het die man die verpleegster met die vuis begin slaan!”

Mnr. Maree het besluit om die verpleegster te hulp te snel, deur die man vas te gryp dat hy haar nie weer bydam nie.

Terwyl hy die man vasgehou het, het hy en me. Maree gehoor hoe mense skree: “The nurse is crazy, she is crazy!”

Mnr. Maree het met sy rug na die verpleegster gestaan en die volgende oomblik ‘n plastiekkrat langs hom sien val. “Die adrenalien het só gevloei dat ek nie eers agtergekom het sy het my met die krat gegooi nie!”

Mnr. Maree het geskree: “Kry die sekuriteit!” en vir sy vrou gevra om kamer toe te gaan met hul kind vir hul eie veiligheid.

Hy het dadelik opgemerk dat al die kinders wat in die gang was, alles moes sien gebeur het, want hulle was vreesbevange.

Die oomblik toe mnr. Maree aansluit by sy vrou en dogtertjie in die saal, het van die ander ouers vir hom gewys dat “die verpleegster die kamer onderstebo gekeer het deur stoele rond te gooi en die koppies te breek!”

Mnr. Maree sê hy glo die ander pa was gefrustreerd met die verpleegster se optrede in die saal.

Hy was erg omgekrap en het dadelik besluit dat hulle vir veiligheidsredes eerder hul dogtertjie uit die saal gaan vat. Hy het dit ook so aan die personeel by ontvangs verduidelik.

Die Maree’s het daarna hul dokter gekontak, wat hulle verder gehelp het met mediese hulp.

“Dit is uiters onprofessionele optrede deur ‘n verpleegster. Die Midmed Hospitaal sien ons nooit weer nie!”

Mnr. Maree was ook kwaad omdat niemand hom teen Maandagoggend gekontak het nie. Later deur die dag het mnr. Hennie Viljoen (hospitaalbestuurder) hom wel gebel en gevra wat gebeur het.

• Mnr. Viljoen het aan die Observer gemeld dat die langnaweek sake bemoeilik het om dadelik te begin met ‘n dissiplinêre verhoor. Hyself was ook uitstedig tot Maandag.

Hy het egter dadelik Maandagoggend toe hy van die gebeure verneem, met ‘n interne ondersoek begin.

Mnr. Viljoen sê hulle is besig om verklarings van al die betrokkenes te kry en sal ook kyk na CCTV videomateriaal, aangesien daar wel kameras is in die gang van die kindersaal.

• Mnr. Maree het nie self ‘n klagte by die polisie gelê nie, maar sê die polisie het wel ingekom by die ontvangs van die hospitaal toe hy en sy gesin oppad uit was.

• Daar is verneem dat daar wel ‘n klagte teen die verpleegster aanhangig gemaak is. Dit was egter nie duidelik wie die klagte gemaak het nie. Teen druktyd het sy nog nie in die hof verskyn nie en kan haar naam nie bekend gemaak word nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version