Limpopostraat se teel brakke

Daar's 'n hele spul brakke in Limpopostraat, ja 'n hele spul brakke van groot tot klein, daar is rooies en bontes en alles wat 'n hond is, ja 'n hele spul brakke in Limpopostraat.

Dis ‘n naarheid as daardie spul brakke tjank, want die hele wêreld gee antwoord op daardie klank, ja die rooies en die bontes en alles wat ‘n hond is, ja die hele spul brakke van Limpopostraat.

Net soos ek diep slaap, en die drome my toesak, blaf daar weer, hier voor my deur sowaarlik weer ‘n brak.

Nou as daardie spul brakke my rus verstoor, gaan ek hulle so wragtie die lot vermoor, ja die rooies en die bontes en alles wat ‘n hond is, ja die hele spul brakke van Limpopostraat.

Al Debbo sou verseker so sing as hy oorkant Limpopostraat 24 moes bly.

Bure van dié adres is raadop met die spul brakke op die erf wat hulle rus lelik verstoor.

Die DBV is al geskakel, die munisipaliteit is al geskakel, en die eienaar van die huis, mnr. Baksteen Eloff, is selfs al gekonfronteer oor die spul brakkies waarmee hy en sy vrou, Yolanda, teel.

“My maggies, daar’s seker 30 plus keffertjies in ‘n klein kampie, en sodra die een lostrek, volg ‘n koor van ‘n geblaf, dit is waarlik onuithoudbaar,” sê me. Lettie van der Walt, wat in ‘n eenheid in die Limpopo-kompleks oorkant mnr. Eloff bly.

Me. Van der Walt skat dat daar meer as 30 Yorkies aangehou word vir teeldoeleindes.

“Mens wil naderhand tjank van die geraas, en blaf en blaas help niks, mnr. Eloff sê bloot dit sy erf en hy sal daar doen wat hy wil,” grom me. Van der Walt.

Amper soos die honde, grom haar bure in die kompleks en aan weerskante van die Eloffs, soos een hond saam oor die geraas – “Iets moet nou gedoen word,” sê hulle.

Klagtes by die munisipaliteit het tot dusver ook nog nie vrug gedra nie, hoewel daar ‘n honde bywet is wat sê, “Niemand mag ‘n hond aanhou wat (a) ‘n steurnis of oorlas van homself maak nie, en (b) aan ‘n aansteeklike siekte lei nie”. In Limpopostraat 24, is elke brakkie se blaf uiters aansteeklik en is die spulletjie derhalwe beide ‘n steurnis en oorlas vir die omliggende inwoners.

Dié spesifieke bywet is egter onlangs omseil deur die laspos-bywette wat rusverstoring van enige aard verbied.

Volgens mnr. Dingaan Ntuli van die verkeersdepartement, word daar egter nie in die laspos-bywet gemeld hoeveel honde elke eienaar mag aanhou op ‘n erf nie.

Sou daar tydens ondersoek bevind word dat die honde wel die buurt se rus verstoor, kan waarskuwings en boetes wel uitgereik word.

“Maar in die geval van so baie honde, sal die munisipaliteit waarskynlik die hof moet nader vir ‘n afsettingsbevel en uiteraard van die saak, sal die DBV, wat deur hul eie wette gelei word, ook intree,” verduidelik mnr. Ntuli die ingewikkelde proses.

Hy het egter Woensdag nadat hy gekontak is vir kommentaar, dadelik ‘n inspekteur na die adres toe uitgestuur om ondersoek te gaan instel.

Hy vermoed dat die advertensiebord op die Eloffs se grasperk, ook nie volgens munisipale reëls opgesit is nie.

“So ‘n spul honde kan natuurlik ook ‘n gesondheidsrisiko skep, dus moet die ding deeglik ondersoek word voor ons op optrede kan besluit,” sê mnr. Ntuli.

Die DBV sê hulle kan huidiglik slegs optree as daar mishandeling betrokke is, en in dié geval is die diere goed opgepas, maar man is hulle lastig.

Toe die Observer Woensdag by die adres gaan draai het, was talle van die brakkies in ‘n kampie voor die huis opgemerk.

Daar is so baie van die besige gediertetjies dat dit bykans onmoontlik is om hulle te tel, soos hulle ronddraf, spring en sonbak op die vensterbanke.

Mnr. Eloff het woes gevloek en skel toe hy genader is vir kommentaar – “Vlieg jy, jou koerant en die bure in julle ma’s se blik…ms in,” het hy geswets.

“Niemand kan my f***l maak nie, daar was al hoeveel d******* inspekteurs by my huis, ek is ‘n geregistreerde teler, so vlieg in jou m*** in!” het hy gebulder.

Op die vraag oor hoeveel honde hy aanhou, het hy gesê “genoeg”.

Sy vrou, Yolanda, het gesê dat die honde wel “mal gaan,” as daar steurnis is deur die dag, maar in die aande baie soet slaap.

Sy sê ‘n buurman langs hulle, “bedryf ‘n skrootwerf in sy erf en dat daar aanhoudend mense is wat die honde aan die blaf sit”.

Back to top button