Dominee sê oor gayskap

'n Predikant van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK), is Saterdag 15 November van sy pos onthef, weens sy verbintenis met die gay en lesbiese gemeenskap.

Ds. Philip Olivier, is na sy verhoor in kennis gestel dat hy losgemaak is as predikant van die Groblersdal-gemeente, en sy akte van legitimasie is vernietig, wat beteken dat hy sy werk as predikant permanent kwyt is.

Hy was sedert Februarie 2011 aangestel as dominee in Groblersdal.

‘n Klagtestaat wat deur die kerk saamgestel is lui dat ds. Olivier die Heidelbergse Kategismus oortree het, deur die die sewende gebod, om nie egbreuk te pleeg nie, te ongehoorsaam.

Die klag spruit uit ‘n Facebook plasing waar mnr. Olivier openlik saam met erkende gays, afgeneem is.

Homoseksualiteit word streng deur die kerk verbied en verdoem.

Die foto is geneem gedurende ‘n geselligheid van die versekeringsmaatskappy, Triarc, wat ook die gay en lesbiese mark bedien.

Volgens die klagstaat het mnr. Olivier ook op sy Facebook-blad aangedui dat hy opleiding deur die onderneming Triarc ontvang, om versekeringsprodukte te verkoop, wat ook indruis teen die kerk se reëls.

Olivier se swaer, André Dique, mede-eienaar van Triarc, het in ‘n openbare Facebook plasing, voorgestel dat hy die eksamens aflê om versekeringsprodukte te kan verkoop.

Verder beweer die kerk dat Olivier ook as ‘n huweliksbevestiger opgetree het, terwyl hy nie by die Department van Binnelandse Sake geregistreer is nie.

Olivier is ook daarvan beskuldig dat hy ‘n kerkleerstelling oortree het, omdat hy nie sy persoonlike finansies kan bestuur nie, en te veel skuld aangegaan het.

Olivier het aan Die Daller verduidelik sy “finansiële moeilikheid het begin toe ek my broer, Mieder, se rehabilitasiekostes betaal het, om hom te probeer speen van dwelms, maar hy het in Desember selfmoord gepleeg”.

“Ek het wel die eksamen gaan skryf, maar het dit nie deurgekom nie. Die eksamen wat ek geskryf het, is nie verwant aan Triarc nie, dis ‘n onafhanklike eksamen onder Moonstone Refinary. Ek het nooit vir Tiarc gewerk nie, maar het wel een aand ‘n sosiale geleentheid saam met my suster en haar man by die onderneming bygewoon, waar die foto van my saam met die personeel later op my Facebook-blad geplaas is,” sê hy.

“Ek voel hierdie hele situasie is onregverdig en verkeerd hanteer. Ek was op stres-verlof geplaas, en daar is ‘n afkondiging in die kerk van my skorsing gemaak, waarvan ek amptelik eers die Donderdag daarna van in kennis gestel is,” sê mnr. Olivier.

“Ek het lekker hier gebly, hier is goeie mense. Ek hou van die mense, en die dorp, maar dis ‘n intense gemeenskap. Hier is uitdagings, maar dit is uitdagings waarmee ek kon werk,” het hy bygelas. Twaalf gemeentes se afgevaardigdes was teenwoordig by sy tugverhoor.

Die Triarc groep het gedurende die week ‘n mediaverklaring op hul webwerf geplaas, waarin hul skryf dat homoseksualiteit nie ‘n keuse is nie, maar dat daar ten minste een uit tien mense wêreldwyd gebore word met ‘n oriëntering vir dieselfde geslag.

Verder sê Triarc “Philip Olivier het ‘n droom gehad om ‘n verskil in mense se lewens te maak deur die kerk, maar sy kerk was nie gereed om hom te aanvaar nie. Ons sien uit daarna om te sien hoe hy sy droom uitleef, in die volgende fase van sy lewe”.

Die Daller het hom prontuit gevra of hy gay is. Sy antwoord: “Dit het niks met enigiemand uit te waai wat my seksuele voorkeure is nie, op die ou end van die dag moet dit gaan oor of ek ‘n kind van God is, en of ek Sy woord verkondig”.

Olivier het Donderdag na die Kaap vertrek waar hy graag mense met dwelmprobleme wil help.

“Hier is niks meer vir my hier oor nie, behalwe vir die vriende wat deur dik en dun my bygestaan het,” lui sy finale totsiens.

Exit mobile version