Video: Hartseer nou ‘n wrok

"Ons hartseer het nou oorgekook tot woede, 'n wrok en haat. Wat die outjie vir julle vertel het oor Dewie is 'n blatante leuen, en ek kan dit bewys."

Rian van Jaarsveld, Dewald Jacobs se pa, het videomateriaal van die geveg voor sy kind selfmoord gepleeg het, aan die Middelburg Observer beskikbaar gestel.

Op die videomateriaal kan daar gesien word hoe Dewald Jacobs op die randsteen voor Engen se winkel sit nadat hy uit Burger Hut gegooi is toe hy en ‘n ander man oor ‘n meisie baklei het.

Vier jong mans, party met motorfietsbaadjies aan, kom uit die restaurant gestap. Die jong man wat met die koerant kom praat het is heel voor. Hy stap reguit na Dewald toe.

“Langs Dewie sit ‘n boemelaar wat hom gevra het vir ‘n sigaret. Ons kind staan nie eers op as hulle hom konfronteer nie.”

Die jong man slaan hom met die vuis in die gesig voor een van sy vriende oorvat. Die gryp hom aan die klere en gooi hom ‘n paar meter ver. Dewald bly sit daar waar hy land.

Op die video kan daar ook duidelik gesien word hoe die man wat Dewald eerste geslaan het buk en sy selfoon optel terwyl sy vriend met die aanranding voortgaan.

Die meisie wat die geveg begin het, staan en toekyk.

“Sy sê dat Dewie ‘n obsessie met haar gehad het. Hoekom het sy dan so baie by ons kom kuier en selfs oorgeslaap? Dit was sy wat daardie aand vir Dewie laat weet het sy is terug in die dorp,” sê mnr. Van Jaarsveld.

Die videomateriaal is aan ‘n regskenner gegee om te kyk of daar nie die moontlikheid is dat kriminele klagtes teen die jong mans gelê kan word nie.

Dewald se familie van Gauteng oorweeg ook siviele stappe.

Mnr. Van Jaarsveld meen dat die gebeure verband hou met Dewald se selfmoord.

“Hulle het hom verneder. Hy het niks terug gedoen nie. Hy het bly sit. En die meisie wat dit alles veroorsaak het staan en kyk. As hulle dinge anders hanteer het, sou Dewie nou nog gelewe het. Om dit alles te kroon besluit hulle toe om ‘n foto van hulle twee op BBM te sit. Hulle het gedink hulle gaan vir Dewie kwaad maak, en kyk wat het nou gebeur.”

•Daar is stappe begin om die opgeskorte vonnis van Freddie Kidson tersyde te stel. Kidson het vir Louis Groenewald doodgeslaan.

Exit mobile version