KYK: Hendrina en Kwaza op breekpunt oor water

Al minder dienste gelewer, maar betalings vereis

Woede is op kookpunt in Hendrina en Kwazamokuhle weens voortslepende watertekorte en ’n munisipaliteit wat net hande in die lug gooi!

Geld vir broodnodige opgraderings en herstelwerk van die waternetwerk is daar nie.

Intussen is Jo-Jo watertenks in Kwazamokuhle aangebring, hoewel Hendrina daarsonder sit.

Pleidooie vir Jo-Jo tenks by die munisipale geboue in Hendrina is weer laasweek gemaak, sonder sukses.

Water moes egter Maandag aangery word na die Hendrina ouetehuis, waar inwoners ook weer sonder water was.

Die ouetehuis se versorgingseenheid het gereeld water, terwyl die selfsorgeenhede nie het nie, want beide word van aparte waterlyne voorsien.

Onafhanklike raadslid eerwaarde Thomas Mpye sê dit karring nou al twee maande so aan, en dat verskonings vanaf die munisipaliteit begin opdroog soos die krane.

VF+ raadslid Corrie Wolmarans sê weer hy waarsku al meer as ’n jaar lank op verskeie raadskomitees van die dreigende waterkrisis wat Hendrina nou in volle greep het.

Voorts is die waterdruk só swak dat die reservoirs maande laas volgetap het.

Die Kwazamokuhle-reservoir wat nuwe uitbreidings en die woongebied moet voorsien, was jare laas vol.

Die resultaat was nóg ’n naweek sonder water vir Hendrina en Kwazamokuhle inwoners, omdat water om die beurt na beide woongebiede getap moet word.

Dinsdag was die water terug, maar vuil en onbruikbaar.

Wolmarans sê huise kry gewoonlik water deur die nag, rondom 03:00 die oggend, maar dat die krane weer teen 06:00 droog is.

Naas die ouetehuis word skole ook erg geaffekteer met toilette wat nie gespoel kan word nie.

“Dis nie net meer ’n dreigende ramp nie, dis volskaals,” sê Wolmarans.

Intussen is vrede tussen bure in Hendrina en Kwazamokuhle ook maar min, met die woongebiede wat nou vinger wys na mekaar op grond van ras en voorkeurbehandeling deur die munisipaliteit.

Wolmarans wou hom nie hieroor uitspreek nie, behalwe dat beide woongebiede met dieselfde krisis sit.

Die waterwerke is eenvoudig nie in staat om beide woongebiede voltyds van water te voorsien nie.

Intussen word ontwikkeling ook goedgekeur, wat net verdere druk op die waternetwerk sit.

Ongeag waar hulle bly, beide Kwazamokuhle en Hendrina inwoners is briesend.

As raadslede begin systap word om hul gemeenskappe op hoogte te hou, moet inwoners eers bekommerd wees.

Beide Mpye en Wolmarans sê hulle oproepe word nie eens meer beantwoord nie, wat oproepe na die munisipale bestuurder, burgemeester en departementshoofde insluit.

Amptenare wat wel bereik word, vloek en skel glo, sê Wolmarans.

Mpye sê die agt Jo-Jo tenks is nie genoeg om Kwazamokuhle te voorsien nie, en dat die gemeenskap nou dink Hendrina word voorgetrek.

@middelburgobserver

Hendrina and Kwazamokuhle residents up in arms over water shortages plaguing area.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Inwoners van Hendrina is raadop. Daar word verwag van hulle om hul dienste te betaal, maar inwoners sê dienste is gebrekkig, of word glad nie gelewer nie.

• Vera Greyling sê mens kan nog begryp dat waterdienste geaffekteer word deur beurtkrag, maar dat daar deesdae geen logiese verduidelikings aan inwoners verskaf kan word nie.

Sy sê water kom net lank genoeg aan vir ’n wasbak om vol te tap.

Sy kla dat indien daar wel water is vir ’n uur of twee per dag, die water bruin en onbruikbaar is.

“Ons kan nie wasgoed was nie, nie bad nie, niks,” kla sy.

Daar is twee WhatsApp groepe vir inwoners, waar daar boonop nou kwaad gestook word tussen die gemeenskappe van Hendrina en Kwazamokuhle.

“Almal is kwaad, almal is bakleierig, maar ons almal sit in dieselfde boot,” sê sy.

• Carin Botha beaam dat water al meer as twee maande gelede begin opdroog het.

“Die laaste maand is die krane daagliks droog,” kla sy.

Haar huishouding is ’n ramp, want die water kom net nagtelik voor middernag aan vir ’n uur, maar is van 05:00 soggens weer af.

Sy het ’n string verskonings wat op die groepe gedeel word een na die ander afgerammel tydens die onderhoud, maar sê “niks maak sin nie, want sodra ’n pypbars herstel word, is daar ’n probleem by die pompe, en daarna by die suiweringsaanleg.”

Botha het ’n klip in die bos gegooi met die vraag: “het die munisipaliteit die waterverskaffer betaal, sienende hy sukkel om sy Eskomrekening te betaal?”.
Die munisipaliteit het ’n watervoorsieningkontrak met die destydse Optimum-myn gesluit, vanwaar water steeds gepomp word.

Daar was al in die verlede ook dienste opgeskort weens wanbetaling.

• ’n Gesinsvrou, wat anoniem wil bly, sê sy vermoed dat die hele debakel nou ’n rassegeur gekry het weens die feit dat Kwazamokuhle inwoners nie soos Hendrina inwoners boorgat eienaars het om op staat te maak nie.

“Inwoners help mekaar waar hulle kan, want ons almal sit met dieselfde krisis,” sê die vrou.

Volgens haar was ’n ander verskoning dat water vir twee ure Eskom toe gepomp word, en dan vir twee ure na die woongebiede toe.

“Dit maak nie sin nie, mens maak tog seker jou reservoirs is vol voordat jy die krane toedraai,” kla sy.

Sy’t beaam dat Hendrina nie JoJo tenks het soos Kwaza nie, en sê dat die munisipaliteit in elk geval die JoJo’s net eenmaal volmaak.

“Ek kry Kwazamokuhle jammer, want hulle gaan dae lank aaneen sonder water.”

Weens die Kwaza reservoir wat jare laas water gesien het, moet die Kwazamokuhle waternetwerk boonop nou gevul word met Hendrina se reservoirs.

“Die reservoir kruisbestuiwing maak die lewe vir almal moeilik.”

Exit mobile version