Thinus Rossouw (62), die polisieman wat sy lewe daaraan gewy het om ander te help, het gister in die Panorama Hospitaal in Kaapstad gesterf.
Sy vrou, Rose, sê hy was die afgelope tyd baie siek en was die laaste drie weke van sy lewe in die hospitaal, waar hy weens nierversaking oorlede is.
Rossouw was ’n geliefde polisieman, maar is ook gevrees deur die misdaadwêreld, want sy werk was sy passie en as hy ’n saak aangevat het, het almal gewéét hy sou dit oplos.
Hy het as jong polisieman aangesluit by die Graaff Reinette polisiestasie, vandaar na Hanover en ’n kort rukkie in eMalahleni.
Met sy aankoms in Middelburg het hy by die spesialis-eenheid, Sanab (Suid-Afrikaanse Narkotika Buro) aangesluit en is vandaar na die destydse moord en roof-eenheid, wat later die ernstige geweldeenheid geword het.
Hy skuif Nelspruit toe vir 10 jaar, waarna hy terugkeer na Middelburg en by die speurders van georganiseerde misdaad aansluit.
Sy ongelooflike ondersoekwerk as een van die provinsie se top speurders het wyd bekend geword.
Daar is later ’n dokumentêr gemaak oor Pieter Pieterse se moord. Pieterse is by Marlothpark vermoor en Rossouw was die ondersoekbeampte wat die saak opgelos het.
Van die opspraakwekkende ‘tasmoord’, wat hy ook opgelos het, is later ’n film gemaak met die naam, ‘A Case of Murder’.
In 2018 het Rossouw uitgetree na 38 jaar in diens van die polisie en het die egpaar na Overstrand verhuis, “waar ons uitkyk op die see.”
Min mense het geweet dat Rossouw in sy aftyd ’n bedrewe stoeier was! As jong man het hy Noord-Transvaal Junior Amateur stoeikleure verwerf, was later Mpumalanga amateur stoei-afrigter en het ook kleure verwerf as nasionale afrigter.
Rose vertel dat hy ook die Presidentespan gehaal het in hengel.
Hy was besonder trots op sy 1100 Honda RC, wat “sy baby was.”
As mens onthou sy vrou en seuns hom as ’n persoon wat altyd gereed was met ’n grappie.
Buiten Rose, word Rossouw oorleef deur sy kinders, Thiens en Ian, skoondogter Luzaan, sy moeder, Paula, broer Hennie en susters Alma, Karien en Paula.
• ’n Roudiens word Vrydag om 11:00 by die Durbanville Memorial Park (Kaapstad) gehou.