News

Slaap met een oog oop, want bende slaan elke nag toe!

’n Vlaag inbrake in Kanonkop laat dit lyk of ’n bende tans in Middelburg bedrywig is.

Inbrekers het in die laaste drie aande elke nag in die omgewing van Protea-, Lilian Ngoyi- en Duikerstraat toegeslaan.

Tydens elke inbraak het die boosdoeners presies dieselfde manier gebruik om in te kom.

Maandag

71-jarige Duikerstraat inwoner, mnr. Johan Lubbe, vertel dat diewe tussen Sondagnag en Maandagoggend die venster van die knip af gehaal en die diefwering geknip het.

Die diewe het sy televisiestel en radio gesteel, asook verskeie kombuisware soos sy mikrogolfoond, broodrooster en ’n drukkoker.

Die diewering wat afgeknip is in Duikerstraat.

“Ek bly alleen in ’n baie groot huis, en my kamer is ver van die sitkamer geleë, so ek het hulle nooit gehoor nie,” het Lubbe verduidelik.

Hy sê dat dit die eerste inbraak is in die 34 jaar wat hy daar woon. Sy huis is tans in die mark en hy vermoed die diewe het dalk gedink niemand is tuis nie, omdat daar ’n ‘Te Koop’-bordjie buite sy erf staan.

“Volgens die polisiebeamptes wat hier was, was daar dieselfde nag sewe inbrake gewees.”

Dinsdag

Dieselfde metode is Dinsdagaand gebruik om by nog twee pensioenarisse in Proteastraat in te breek.

Volgens me. Rose de Waal het nie sy of haar man iets gehoor nie, en die drie honde wat in die huis slaap, het ook nie geblaf nie, “beide ek en my man het wakker geword met ’n seer keel en ons tonge het dik gevoel.”

Me. de Waal vertel dat die sitkamervenster van die knip verwyder en die diefwering afgeknip is.

“Hulle het die bank mooi netjies weggeskuif en ons televisiestel en Hi-fi gesteel. Gelukkig het ons ’n veiligheidshek wat die vertrek van die res van die huis af skei.”

Volgens me. de Waal is dit die eerste inbraak in 15 jaar.

Woensdag

Daar is vanoggend om 04:00 by ’n eenheid by die Heuwelsig woonstelle ook ingebreek.

Volgens die inwoner, wat anoniem wil bly, is die penne bo-op die muur afgekap, die venster van die knip afgehaal en die diefwering afgesny.

Die penne op die muur by Heuwelsig woonstelle is afgekap.

“Hulle het ’n televisiestel en ’n haardroeër gesteel, en daarna die venster weer toegemaak en terug op sy knip gesit!”

• Volgens Jacob Louw, onder voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum sektor 4 raak inbrake buite beheer en moedig hy inwoners aan om hulle omgewing dop te hou.

Mense wat graag wil aansluit by die GPF Sektor 4 kan hom skakel by 071 227 5491.

Die diefwering wat afgeknip is by die Heuwelsig woonstelle.

 

Do you have information on a news story you think we should cover?

Please send an email to our Editor at daleen@mobserver.co.za or phone us on 072 248 3855.

To keep updated and informed on all the latest Middelburg news, visit our official social media pages:

Facebook, Instagram, TikTok, X (Formerly Twitter), and YouTube.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button