News

Video: Renicke is tuis na vier maande behandeling

Die tweejarige dogtertjie wat gestik en vier maande behandeling ontvang het, het pas tuisgekom.

Klein Renicke (Nicke) Coetzer, wat in Junie vanjaar in medikasie gestik, ’n maand in die intensiewe eenheid was en daarna behandeling in rehabilitasie gekry het, het pas tuisgekom.

Vriende het laat weet dat Renicke, wat in Oktober haar tweede verjaardag gevier het, en haar ouers, Dijané en Nick, veilig in Middelburg aangekom het.

 

                                                         Dijané en Nick Coetzer toe hulle vanoggend vir Renicke kon huistoe neem.

 

Die mediese fonds het onlangs ’n suurstofmasjien goedgekeur sodat die dogtertjie en haar ouers uiteindelik na hul huis kan terugkeer.

Sedert die dogtertjie op 3 Junie verstik en later per helikopter oorgeplaas is na die Garden City Hospitaal, was dit ’n wipplank van emosies vir haar ouers.

Renicke was nadat sy in die intensiewe eenheid behandeling gekry het, na die Netcare Rehabilitasiesentrum vir ’n lang tydperk, vanwaar sy onlangs weer vir ’n rukkie in die intensiewe eenheid van die Garden City Hospitaal behandeling gekry het vir ’n infeksie. Sy is vanoggend uit dié hospitaal ontslaan.

Vandat Renicke opgeneem is, is almal op hoogte gehou van haar vordering op die ‘Gebedsgroep vir Renicke’ en is daar deurentyd vir gebede gevra vir hulle pragtige dogtertjie.

Dijané het verlede week uit haar mamma-hart uit ’n besondere boodskap op die groep geskryf:

“Net iets wat ek wil deel…

Ek het vandag besef ek herken nie meer die vrou wat terug staar as ek in die spieël kyk nie… Ek het in vier maande 10 jaar ouer geword…
My vel lyk oud, my hare is vaal en leweloos, my oë lyk hartseer en het nie meer die gelukkige glans nie, my klere is groot en al wanneer ek regtig glimlag is wanneer ek my baba of my mense wat vir my omgee sien…

Maar dis okey! Ek het soo baie om voor dankbaar te wees! Ek lyk 10 jaar ouer want ek het 20 jaar se kennis en ondervinding in vier maande opgetel. Hoe om ’n verpleegster, fisioterapeut, spraakterapeut en arbeidsterapeut vir my kind te wees.

Ons pad is ’n bitter moeilike pad om te stap, maar my kind gee my bonatuurlike krag.

Ek huil in die geheim, wanneer niemand my sien nie, wanneer die stort se water my trane kan weg was, wanneer niemand kan sien dat my hart in stukke is nie…
Ek probeer sterk wees vir my kind en huil nooit voor haar nie want sy moet wéét haar mamma is soo gelukkig om haar lewendig te sien, al is die prentjie van my kind se lewelose lyfie in my brein gebrand.

As ouer het ons een werk en dis om jou kinders te beskerm…hulle te beskerm teen als wat hulle wil seermaak (‘bekkie pasop die gogga gaan jou byt, bekkie stadig jy gaan val, liefie moenie vat nie jy gaan seerkry’), maar my hande is afgekap en dis die aakligste gevoel wat enige ouer kan hê.

Ek kan haar nie beskerm teen kieme en virusse wat haar aanval nie, my soentjies help nie meer om die einas weg te vat nie, my drukkies help nie meer om haar seer hartjie beter te laat voel nie…maar ek is net ’n mamma en my instink is om vir haar te sê: ‘dis okey, mamma is hier’, haar koppie te soen en vir haar te sê dat my liefde vir haar eindeloos is want eendag gaan dit weer help en ek sal nie ophou tot daardie dag weer kom nie.

As ’n mamma kry jy ander krag vir jou kind…jy kry nuwe moed en nuwe krag elke liewe dag! Want jou kind lewe!

Hierdie is nie ’n ‘voel jammer vir my’ boodskap nie. Ek wil eintlik dankie sê vir almal se ondersteuning in hierdie tyd…Ons is so dankbaar om so baie mense te hê wat vir my prinses omgee.

Ek wil ook net byvoeg dat dit okey is om nie altyd okey te wees nie. Of jy ’n ouer is of nie, jy mág jou swak oomblikke hê! My ma het altyd gesê: ‘huil my kind, more skyn die son weer’…Al voel jou probleme en bekommernisse nie so groot soos myne nie, het jy nog die reg om nie altyd 100% okey te wees nie…

Die lewe gooi soms dinge in jou pad wat jy nie kan verstaan hoekom sulke goed met jou moet gebeur nie… En dis okey, want more skyn die son weer!”

• Omdat Renicke vir meer as vier maande behandeling ontvang het, is die ekstra mediese kostes tot nou toe astronomies hoog.
Persone wat bydraes wil lewer op die Backabuddy fonds, kan dié skakel volg: https://www.backabuddy.co.za/campaign/renicke-coetzer

• Om te help fondse insamel, is daar ’n vier-aan-’n-kant aksiekrieketdag op 26 Oktober by die Middelburg Binnenshuise Krieketarena. Inskrywings beloop R400 per span. Registrasies is om 09:00 en wedstryde begin om 10:00. Vir besprekings skakel Chantelle by 084 645 0694.

 

@middelburgobserver

After months in hospital and extensive rehab, Nicke is home!

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button