News

Plaasaanvaller swaar gevonnis ná panga-aanval

'n Plaasaanvaller moet effektief 18 jaar tronkstraf uitdien.

Die plaasaanvaller, wat Lorraine Prinsloo (57) wreedaardig in haar huis op ’n plaas met ’n panga aangeval het, is ná amper twee jaar uiteindelik op 3 Oktober, swaar gevonnis in die Groblersdal Landdroshof.

Me. Prinsloo is op 23 Desember 2022 in haar huis op hul familie wildsplaas, 28km buite Groblersdal op die N11, deur ’n aanvaller oorrompel en herhaaldelik met ’n panga oor die kop geslaan. Sy is op verskeie plekke stukkend gesny op haar hande en kop deur die herhaaldelike houe wat sy probeer afweer het.

Sy was die oggend van die voorval in haar kombuis besig met voorbereidings vir ’n Kersete.

Michael, haar man, is kort na 07:10 by die huis weg, nadat die alarm by hul seun se huis, wat ook op die plaas woon, afgegaan het. Sy seun was op pad terug van vakansie af en was dus nie tuis nie.

Terwyl mnr. Prinsloo weg was, het die aanvaller op me. Prinsloo toegesak.
Victor Seroka (34) het haar aangeval met ’n panga en deurentyd vir items in sy taal gevra.

Me. Prinsloo het reeds hewig gebloei van verskeie kopwonde wat sy toegedien is.

‘n Foto van Lorraine Prinsloo kort nadat sy in haar huis aangeval is met ’n panga op 23 Desember 2022.

 

Die aanvaller het vinnig ’n beursie en selfoon in die kombuiskas sien lê en dit gevat, daarna het hy aangedring op skoene.

Sy het die skoene geneem en elke skoen by verskillende vensters uit aan weerskante van die huis gegooi, maar die aanvaller het haar na buite die huis gesleep.

Net buite hul kamer is ’n tipe kluisdeur, wat weens veiligheidsredes aangebring is. Die oomblik toe hulle by die kamerdeur uitgaan, het me. Prinsloo die aanvaller vorentoe gestamp, teruggespring en die deur gesluit.

Sy het haar kantoorselfoon geneem uit haar bedkassie en Loskop Alarms gebel. Sy het ook haar man en boere op hul radio geroep vir hulp.

Bykans ’n 100 boere was vinnig op die toneel, asook mnr. Piet Groenewald van WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services), ander lede van dié sekuriteitsmaatskappy, Loskop Alarms en Swift EMS.

Me. Prinsloo is na ’n mediese privaat dokter geneem, waar sy gestabiliseer en na die Life Midmed Hospitaal geneem is.

WIPS het dadelik ’n spoorsnyer ingespan om die aanvaller agterna te sit. Mnr. Groenewald (WIPS) en sy span het binne 40min die verdagte sowat drie kilometer vanaf die Prinsloo’s se huis opgespoor.

Mnr. Groenewald het destyds gemeld dat hulle nie so gou ’n arrestasie sou kon maak, as dit nie vir die hulp van die boere in die omgewing was nie.

Die verdagte is in hegtenis geneem en items wat vanaf die plaas gesteel is, is in sy besit gevind.

Me. Prinsloo het vroeër aan die Daller vertel dat sy 240 steke in haar kop gekry het en dat sy steeds sukkel met gevoel in haar bene, asook die regterkant van haar kop.

“Hierdie was ’n baie traumatiese aanval. As dit nie vir Magda Coetzee (AfriForum Trauma-eenheid) was wat my gehelp het nie, sou ek nie die hofsake kon bywoon nie,” het sy tydens ’n vorige hofverskyning van Seroka by die Groblerdal Landdroshof gesê.

Seroka is aangekla van huisbraak met die doel om te steel, betreding, roof met verswarende omstandighede en ’n alternatiewe aanklag van poging tot moord, asook dieremishandeling.

Seroka is 22 maande na die aanval gevonnis.

Hy is 26.5 jaar tronkstraf opgelê, wat bestaan uit 18 jaar vir roof met verswarende omstandighede, agt jaar vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal en ses maande gevangenisstraf vir dieremishandeling.

Die hof het aangedui dat sy vonnis samelopend uitgedien word, wat beteken dat hy effektiewe 18 tronkstraf moet uitdien.

Volgens Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, bring hierdie uitspraak hoop aan die boeregemeenskap.

Me. Coetzee, ’n trauma-ondersteuner by die AfriForum-traumaeenheid, het van die begin af die pad saam met die Prinsloo-egpaar gestap en ook gehelp om haar voor elke hofverskyning voor te berei vir wat op haar kan wag.

“Dit was regtig ’n ongelooflike voorreg om vir Lorraine en Mike by te staan ná hierdie traumatiese insident. Die trauma wat met só insident gepaard gaan is erg en uitgerekte hofsake veroorsaak sekondêre trauma. Dit is waarom die AfriForum-traumaeenheid doen wat ons doen, ons wil slagoffers bystaan tydens hierdie proses en hulle help om deur die trauma te werk.”

Sy het bygevoeg: “Ons is saam met Mike en Lorraine dankbaar dat reg en geregtigheid uiteindelik geskied het. Soos die regter ook gesê het in sy uitspraak, Lorraine gaan waarskynlik letsels oorhou van die fisiese wonde, maar gaan nooit totaal en al genees van die emosionele en sielkundige skade wat deur hierdie aanval aangerig is nie.”

Me. Prinsloo het ook haar dankbaarheid teenoor AfriForum en die traumaeenheid uitgespreek. “Sonder die onderskraging en bystand by die hof sou ek soveel moeiliker deur daardie dae gekom het. Ek wil graag dankie sê vir die AfriForum-traumaeenheid waar die mense hul harte oopmaak om slagoffers by te staan en weer te help om tree vir tree vorentoe te gaan.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button