Beter met man ná fratsgongeluk waar hy vasgedruk was tussen trok en bakkie

Die man wat twee maande gelede vasgedruk is tussen ’n wegholtrok en ’n bakkie en meters ver gesleep is, sterk steeds tuis aan.

Pieter van Niekerk (54) kry steeds intensiewe fisioterapie vir sy beserings wat hy opgedoen het tydens ’n fratsongeluk en is sy familie trots op wat hy reeds vermag het.

Pieter is op 11 Augustus ernstig beseer toe ’n trok teen die N4-afrit by die Alzu Petroport weggehardloop, hom vasgepen het tussen die trok en die bakkie en vir sowat 50m ver gesleep het.

 

Die ongelukstoneel op 11 Augustus vanjaar nadat Pieter vasgedruk is tussen ’n trok en ’n bakkie en sowat 50m ver gesleep is.

 

Sy familie het kort na die ongeluk gesê dat dit ’n wonderwerk is dat hy die ongeluk oorleef het.

Lees ook: VIDEO: Man vir 50m gesleep, vasgedruk tussen trok en bakkie

Hy is in die intensiewesorgeenheid van die Life Midmed Hospitaal behandel vir ernstige beserings en was ook aan lewensonderhoudende masjiene gekoppel.

 

Pieter terwyl hy behandeling ontvang het in die intensiewesorgeenheid. FOTO: Verskaf deur familie.

Pieter is op 27 Augustus ontslaan en sterk sedertdien tuis aan, waar hy al kort rukkies in ’n rolstoel sit.

Sy suster, Erika du Plooy, het hierdie week gesê dat hulle stomgeslaan is met die deursettingsvermoë wat hy het.
“Hy het baie gewig verloor en drink aanvullings om weer te probeer gewig aansit, maar hy hou aan baklei om beter te word en beur elke dag vorentoe.”

Sy noem dat hy Maandae steeds fisioterapie kry en die erge wond op sy been weekliks skoongemaak word. “Dit is elke keer baie seer, maar hy kla nie, hy gaan deur dit en fokus vorentoe. Hy fokus op die Here.”

Die gesin is dankbaar dat dit elke dag ’n bietjie beter met hom gaan. “Ons probeer om hom te help om positief te bly, dat hy nie moedeloos word nie. Dit is rof, maar ons is só dankbaar om te sien wat God in sy lewe doen.”

Omdat Pieter nie ’n mediese fonds het nie, staan die mediese rekeninge al op R980 000.
’n Backabuddy fonds is begin om met die rekeninge te help, maar is daar nog derduisende rande uitstaande.

Persone wat bydraes wil lewer, kan ingaan op dié volgende skakel: https://www.backabuddy.co.za/campaign/pieters-healing-fund

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version