‘Kaptein’ terug wat mans dreig oor verkragting

’n Man wat homself ’n kaptein noem en reeds talle mans uit duisende rande gekul het om kwansuis ‘verkragtingsake’ te laat verdwyn, is alweer bedrywig.

Die ‘kaptein’ het homself egter vasgeloop in Chris Reynierse (63), wie hy twee jaar gelede ook geskakel het en toe ook ’n bloutjie geloop het.

“Hy het nie eers daarby uitgekom om te vra vir geld om die dossier te laat verdwyn nie, want ek het hom in sy peetjie in gestuur en die foon doodgedruk,” het Chris laggend gesê.

Chris is verlede week gekontak deur ’n man wat homself ’n kaptein in die polisie genoem het.

“Ek was vroeër jare self ’n polisieman en hy het die houding van ’n polisieman ingeneem. Hy was egter ook arrogant en het vir my gesê dat ek hom moet kom sien oor die verkragtingsaak. Ook dat ek goed weet waarvan hy praat. Ek het hom egter nie kans gegee om verder te praat nie en in baie duidelike taal vir hom gesê wat ek van hom dink en waar hy my kan kom kry.”

Chris wil graag almal net weer waarsku dat die ‘kaptein’ weer besig is met sy streke.

• Oud-Middelburger, Eugene Strydom, is ook in 2022 gekontak nadat hy al ’n geruime tyd in die Kaapprovinsie gebly het. Hy het egter nog sy besigheid op Facebook geadverteer. Hy vermoed dis waar die man sy nommer gekry het.

Die kaptein het gesê hy is van die Middelburg polisie. Mnr. Strydom het hom gevra of dit by die Middelburg polisie in Joubertstraat of Mhluzi polisie is en die kaptein het gesê die een in Joubertstraat.

“Hy het vir my gesê daar is ’n meisie wat by hom sit wat sê sy is verkrag en sy soek R5 000 om die saak terug te trek.”

Eugene het hom net daar in die rede geval en gesê hy bly al lankal in die Kaap en dat daar nie so ’n saak kan wees nie.
Hy het die foon doodgedruk, maar die kaptein het hom terug geskakel, dreigend geraak en gesê hy is nie lus vir speletjies nie.

“Hy het gesê ek moet die R5 000 betaal of hy gaan aan met die saak, maar ek het vir hom gesê ek sal iemand polisiestasie toe stuur om te hoor wat aangaan en hom in sy kanon in gestuur.”

• Vroeg in 2022 het ’n man, wat homself ‘kaptein John Smith’ noem, talle mans in Middelburg afgedreig wat uit vrees geld aan hom oorbetaal het, omdat hy “verkragting-dossiere” kon laat verdwyn.

’n Privaat ondersoeker is selfs gevra om te help om die sake te ondersoek, omdat daar so baie mans was wat deur die sogenaamde ‘kaptein’ gepla is.

Een van die persone wat lastig geval is, was ’n 17-jarige seun. Hy is meegedeel dat daar ’n verkragtingsaak teen hom geopen is in eMalahleni. Hy het dadelik sy ma daarvan vertel en het sy dit gelukkig gou uitgeklaar.

• Die privaat ondersoeker het later vir die Observer vertel dat hy weet van twee mans wat onderskeidelik R15 000 en R18 000 aan die skelm betaal het.
Daar is gemeld dat hulle “nie lus was vir uitgerekte hofsake om hul onskuld te probeer bewys nie, al het hulle geweet hulle is onskuldig.”

• Dit blyk egter dat die man wat homself as ’n polisieman voordoen, al van sover terug as 2016 op mans regdeur die land toeslaan.

• Hy skakel mans en stel hom voor as ’n kaptein van die dorp waarin die slagoffer bly. Die ‘kaptein’ sê vir die man dat daar ’n verkragtingsaak teen hom geopen is en verduidelik dan hoe ernstig dit is.

Hy het kennis van die reg en polisieprosedures en praat sy slagoffers só bang dat hulle glo hulle gaan gearresteer word.

Dan skielik verander hy sy storie en sê dat hy die dossier kan laat ‘verdwyn’ as daar R5 000 aan hom oorbetaal word. Hy bly egter terugbel met dreigende stories.

• Tydens een van die voorvalle het een van die persone wat geskakel is, met die hulp van die privaat ondersoeker ‘saamgespeel’ en gevra vir ’n bankrekeningnommer waar geld inbetaal kan word ‘om die saak te laat verdwyn.’

In die ondersoek is gevind dat die bankrekeningnommer dié van ’n vrou is wat al in 2018 oorlede is en onregmatig deur die skelm gebruik word.
Daar is later ook verneem dat die persoon wat mense inloop, ’n dwelmverslaafde is.

Die ondersoek duur steeds voort.

• Die privaat ondersoeker het op ’n stadium gemeld dat die man wat hom voordoen as ‘kaptein John Smith’ opmerklik bry (sy ‘r’ rol).

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version