News

Grafiese inhoud: Dawie Nel lewenslange vonnis opgelê vir moord van transseksuele nooi

’n Oud-rugbyspeler van Middelburg is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord van sy vriendin.

Die voormalige Middelburg inwoner en Puma-rugbyspeler, Dawie Nel (49), is Vrydag tot lewenslange tronkstraf in die Noord Gautengse Hooggeregshof gevonnis vir die moord van sy transseksuele vriendin in die vroeë oggendure tussen 2 en 3 September 2020, by sy Meyerspark-huis.

Nel se regsverteenwoordiger, advokaat Johann Swanepoel, het die vonnis bevestig, maar bygesê dat die appèlaansoek teen Nel se skuldigbevinding en vonnis, binnekort ingedien sal word.

Swanepoel sê dat hy nog wag vir die hofuitspraak om beskikbaar gestel te word, voordat verskeie kwelpunte, onder meer dat Nel se urinemonster deur die staat verloor is en die getuie-ketting van die oorhandiging en voorlegging van die videos in die moordverhoor nie gevolg is nie, in die appèlaansoek aangespreek sal word.

Nel en die slagoffer, Kunwalong (Annie) Pissanu, het saam gewoon toe Nel haar glo na ’n aand van alkohol en dwelmmisbruik met ’n tou verwurg het.

Videos van die moord is deur ’n vriend van Nel, Quintin de Witt, tydens die daad geneem.
Op die videos kan gesien word hoe Nel verskeie maal ’n tou om ’n lewelose Annie se nek styftrek.

Die beeldmateriaal wys ook hoe Nel op haar nek tydens die verwurging trap, terwyl die tou styfgetrek word.
Die beeldmateriaal, in die Middelburg Observer se besit, is te grafies om te publiseer.

Pissanu was glo ’n ontkleedanser en gesellin, wat ’n volledige geslagsverandering van man na vrou ondergaan het.

Nel beweer in sy verklaring dat “Annie” haarself weer die aand van die moord aanlyn as sekswerker geadverteer het, wat gelei het tot die dodelike onderonsie.

Na die moord het Nel glo twee pille gedrink, wat ’n farmakoloog tydens die verhoor getuig het, dieselfde effek as Rohypnol, die berugte afspraakverkragtingsmiddel, op hom sou hê.

Nel beweer dat hy met ’n wapen op hom gerig, deur De Witt gedwing is om Annie te vermoor, terwyl De Witt getuig het dat hy deur Nel gebel is om hom te help om van Annie se liggaam ontslae te raak.

Nel wou Annie glo in ’n blou plastiek, wat hy in sy swembadbesigheid gebruik het, toedraai en iewers in ’n bebosde area gaan versteek.
De Witt het egter polisie toe gegaan en Nel is kort na die moord, met Annie se liggaam nog vasgebind aan ’n tafel, in sy huis gearresteer.

Daar was ook ’n T-hemp in Annie se mond en keelholte ingeforseer tydens die verwurging.

Nel was sedert sy inhegtenisname in aanhouding, waartydens hy ook psigiatriese waarneming by Weskoppies ondergaan het.

• De Witt is self ook jare gelede van poging tot moord en verkragting skuldig bevind, nadat hy die slagoffer by haar werkplek ontvoer, verkrag en toe met ’n mes gesteek en gesny is.

De Witt het glo ’n oproep van ’n vals noodgeval na die vrou se werkplek, ’n sekuriteitsfirma gemaak, en haar ontvoer toe haar kollegas gedurende haar aandskof na die vals toneel toe gejaag het.

’n Voormalige polisielid, wat op die toneel was, het later op ’n Middelburg Observer plasing oor De Witt se vonnis gesê dat De Witt lewenslange tronkstraf opgelê moes word weens die wreedheid van sy dade, en dat dit ’n wonderwerk was dat die slagoffer die aanval oorleef het.

Do you have information on a news story you think we should cover?

Please send an email to our Editor at daleen@mobserver.co.za or phone us on 072 248 3855.

To keep updated and informed on all the latest Middelburg news, visit our official social media pages:

Facebook, Instagram, TikTok, X (Formerly Twitter), and YouTube.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button