Tjar-Lize is Sterstatus finalis

’n Kleuterskool onderwyseres is ’n finalis vir Sterstatus.

Tjar-Lize Klopper (28), ’n oud-leerling aan Hoërskool Ben Viljoen, is ’n finalis vir Sterstatus.

“Dit is ’n realiteitskompetisie op eTV wat fokus op persoonlike groei van vrouens. Sterstatus is nie net ’n kompetisie nie, dit is ’n geleentheid om vroue in die vermaaklikheidsbedryf van Suid-Afrika te bemagtig. Dit is die perfekte platform vir enige vrou om haar drome te volg! Daar is soveel wat gebeur deur hierdie program van werkswinkels en mentorskap tot lekker uitdagings en liefdadigheid,” het Tjar-Lize vertel.

Sy en haar jonger broer en suster het aanvanklik op Maleoskop net buite Groblersdal saam hul ouers, Tjaart en Maralize van der Walt, gewoon.
Haar ouers het later na ’n plaas net buite Groblersdal verhuis en Tjar-Lize het haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Ben Viljoen voltooi.

In 2019 verhuis Tjar-Lize na Delmas waar sy en Max Klopper getroud is. Die egpaar en hul seuntjie, Dawid, woon tans op ’n plaas net buite Delmas saam met skoonouers Mike en Hettie Klopper.

Tjar-Lize was nege maande swanger toe die inperking as gevolg van Covid-19 aangekondig is.
Op die negende dag van die inperking is haar seuntjie gebore.

Met die geboorte van haar seuntjie het sy geworstel met eensaamheid en met die vooruitsig van moederskap te midde van die onsekerhede van die tye.

“Toe ek terugkeer huis toe, was dit nie jou normale prentjie nie – geen familiebesoeke, geen vriende wat kom loer na baba nie, en ek kon nie regtig die huis verlaat nie.

“Dit het ’n bietjie van ’n eksistensiële krisis vir my veroorsaak. Hier sit ek, heeltemal alleen in hierdie verwarrende wêreld met ’n baba. Ek het myself begin vra, wat wil ek eintlik met my lewe doen? Wat is my doel? Hoe kan ek die wêreld ’n beter plek maak? Dit was ’n moeilike tyd, ek het troos en verbintenis gevind aanlyn, veral mamma-groepe op sosiale media.”

Tjar-Lize Klopper saam met haar man, Max, en seuntjie, Dawid.

Alleen by die huis, met ’n begeerte om haar seuntjie se vroeë ontwikkelingservarings te verryk, het sy haarself meer begin leer oor kinderontwikkeling. Sy het in sy slaaptyd kort kursusse en opvoedkundige bronne nagejaag. Sy het gekwalifiseer in kursusse oor lewensdoelgerigtheid-, bewustheid- en visiebord leerlinge en is tans ’n gesertifiseerde afrigter daarin.

Dit was gedurende hierdie tydperk dat haar idee vir Toddly, haar besigheid, begin vorm aanneem het.

“Ek was opsoek na ’n “sensory hoop” of sensoriese hoepel vir my seuntjie. Met die streng inperkingsmaatreëls, het ek my tot my ma gewend, wie se ingebore kreatiwiteit my nooit teleur stel nie. Nadat sy dit gemaak het, het ek dit op mamma-groepe begin deel. ’n Onmiddellike vloedgolf van mammas het navraag gedoen wat ook ’n sensoriese hoepel wou hê. Dit is hier waar ek besef het dit is ’n besigheidsgeleentheid. Dit het my ’n doel gegee gedurende daardie tyd.”

Toddly is tans bekend vir ’n groot verskeidenheid opvoedkundige produkte vir kinders en groei steeds daagliks.

Tjar-Lize is tans ’n kleuterskool onderwyseres by Heidi Kleuterskool op Delmas.

Sy het ’n week voor Sterstatus se inskrywings vir 2024 gesluit het, met Heidi se skoolhoof gesels, wat baie ondersteunend en aanmoedigend was.
Haar groot doel agter Toddly was om mede-mammas te help. Dit is ook haar doel om aan Sterstatus seisoen ses deel te neem.

“My hoofdoel is om aan al die mammas daar buite te wys, moenie ooit die krag van jou drome onderskat nie. Laat ons die wêreld wys waartoe ons in staat is. Ma-wees hoef jou nie te keer om groot te droom nie. Om van ’n klein dorpie af te kom, hoef jou nie te keer om groot te droom nie.

“In die woorde van Maya Angelou, ‘My missie in die lewe is nie bloot om te oorleef nie, maar om te floreer; en om dit met ’n bietjie passie, ’n bietjie empatie, ’n bietjie humor en ’n bietjie styl te doen.’ Hierdie is aan die mammas wat dromers is, die mammas wat doeners is en hul drome vreesloos najaag.”

Volgens Tjar-Lize het die Sterstatus-ervaring haar heeltemal uit haar gemaksone geplaas.

“Ek is gewoond aan kaalvoet op die plaas wees of in my klaskamer saam met die kinders, sonder enige grimering. Dis ’n heel ander wêreld as wat ek ken, maar dit het my baie laat groei. Die kameras, die druk van die kompetisie en die uitdagings het my geleer om meer in myself te glo.

Elke vrou in die kompetisie het so ’n ongelooflike storie en dit is vir my ’n voorreg om deel daarvan te wees. Ek het ook besef dat ek nie mense op hul uiterlike moet beoordeel nie – baie van die vroue wat aanvanklik intimiderend voorkom, het die diepste en mooiste stories wat ek nie sou verwag het nie.”

Tydens haar deelname aan Sterstaus het dit vir haar baie uitgestaan dat elke deelnemer eintlik baie in gemeen het, ten spyte van hoe verskillend elkeen van buite lyk.

“Ek het geleer om nie so gou te oordeel nie en om altyd oop te wees vir dieper gesprekke. Sterstatus het my ook geleer om ’n balans te vind tussen die ‘glam’ van die kompetisie en my ware self. Alhoewel ek van die plaas af kom en baie meer gemaklik is met my natuurlike voorkoms, het ek besef dat daar krag is in die manier waarop ons onsself aanbied, sonder om ons kern te verloor.”

Tans beweeg die deelnemers van Sterstatus nou na die laaste fase van die kompetisie, waar hul finale onderhoude met die beoordelaars sal hê en is sy natuurlik gekies as een van die finaliste.

Daar was al baie uitdagings tot dusver wat alles punte verdien het, en in Oktober gaan al die punte opgetel word om die wenner te bepaal.

Die gala-aand in Oktober is die hoogtepunt waar die groot aankondiging gemaak sal word.

“Ek moet net bly vertrou op die punte wat ek tot dusver verdien het en weet dat ek my beste gegee het. Oktober gaan vir my ’n spesiale maand wees – ek gradueer in Vroeë Kinder Ontwikkeling, wat vir my ’n groot mylpaal is. Daar is ook ’n paar interessante projekte wat vir my wag, veral rondom my passie vir mammas en my nie-winsgewinde organisasie, Moment by Moment Motherhood. Maar ek wil nog nie te veel verklap nie! Hou gerus ’n oog op my sosiale media, daar gaan beslis opwindende dinge gebeur wat ek met julle gaan deel.”

Sterstatus se sesde seisoen, waarvan Tjar-Lize deel vorm, sal vanaf 6 Oktober op eTV uitgesaai word, elke Sondag omstreeks 17:00.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version