News

Dokters verwonderd oor klein Lilie se beterskap

Dokters staan verwonderd voor Lilie se herstel, want sy fluister reeds vir haar mamma en haal op haar eie asem!

Net drie dae nadat ons gemeenskap byeen gekom en gebid het vir klein Lemay (Lilie) Fouché, het haar familie laat weet dat dit beter gaan.

“Ons God leef en Hy antwoord op ons gebede,” het haar familie op ‘n WhatsApp-groep gesê om almal te laat weet dit dit beter gaan met klein Lemay.

Lemay, ‘n graad twee leerling van Laerskool Kanonkop, is ernstig beseer in ‘n ongeluk op 19 September, waarin haar pa, Mornay, gesterf en haar oupa, Johnny (80) ook beserings opgedoen het.

Sy is in die Life Midmed Hospitaal gestabiliseer en dieselfde dag per helikopter oorgeplaas na die Alberton Netcare Hospitaal waar sy sedertdien drie operasies ondergaan het en in die intensiewe eenheid behandeling ontvang.

Woensdagaand het talle inwoners en ‘n groot groep motorfietsryers op die hoek van Oribi- en Lilian Ngoyistraat, bokant Laerskool Kanonkop, bymekaar gekom om vir haar te bid.

Lees ook: Video: Gebede en ballonne gaan op vir klein ‘Lilie’

 

Vroeër vandag het dié verblydende nuus op die groep deurgekom:

“Goeie middag almal.  Wonderlike nuus!

Klein Lemaytjie is af van die ventilator (asemhalingsmasjien)  en haal op haar eie asem!

Hulle monitor haar nou net baie noukeurig en gee haar op hierdie stadium suurstof om te help met die asemhaling.

Ons het met die hoof van die ICU (intensiewe eenheid) Spesialiste Eenheid gepraat wat oor Lilie is en hy het gesê al haar organe funksioneer normaal, die lewer, niere, milt, diafragma en die longe.

Hulle is ook tevrede met die skedelbreuke wat herstel is.

Daar is niks mooier om te sien as Lilie wat vir haar mamma Marna terug fluister: “love you too” en ” much much more”.

Ons dien so ‘n groot God!

Die dokter het gesê toe hy haar gekry het, het hul mediese statistiek gewys dat daar ‘n 85% kans was dat sy nie gaan oorleef nie as gevolg van haar beserings. Maar nou sê hy, hy het hy al daardie statistiek in die asblik gegooi en staan verwonderd oor Lilie se herstel. Dankie vir almal se gebede en hou asb aaseblief bid vir genesing. Ons God leef en Hy antwoord op ons gebede.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button