News

Vlaag inbrake oor die naweek

Boosdoeners het van die koue en erge wind gebruik gemaak om by verskeie huise toe te slaan.

Misdadigers was oor die naweek erg bedrywig in veral Kanonkop, met minstens ses inbrake wat gerapporteer is in die dorp.

Die boosdoeners het moontlik van die koue en erge wind gebruik gemaak om by verskeie huise toe te slaan.

In Kanonkop alleen is daar deur die loop van Vrydag- en Saterdagaand by vyf huise ingebreek, met die sesde inbraak wat in Gholfsig plaasgevind het.

• Stefnie Loedolff het bevestig dat ’n groep misdadigers Saterdagaand om 19:48 by verskeie erwe in Kanariestraat bedrywig was.
Stefnie, haar ouers en broer bly almal in Kanariestraat.

Sy het verduidelik dat daar al voorheen by haar ouers ingebreek is vanaf ’n leë huis op die hoek van Mopani- en Kanariestraat waarvandaan die inbrekers oor ’n muur gespring het.

Een van die verdagtes wat in Kanariestraat se inbraak betrokke was, het ’n nommer vyf skoen gedra.

“Hulle haal die hek van die spoor af by die huis in Mopaniestraat en ons hét al lemmetjiesdraad op die muur gesit om hulle te verhinder om oor te kom.”

Die diewe het eers by haar ouers se wendyhuis toegeslaan waar hulle gereedskap gesteel het. Hulle vermoed dat hulle ook by haar broer se wendyhuis wou ingaan om by sy motorfiets uit te kom.

“My broer het CCTV kameras opgerig en kon agterkom hulle was in sy erf. Hy kon hulle afskrik voordat hulle by die wendy kon inkom.”

Die diewe het daarna gevlug en is by Stefnie se erf in.

“Daar is gelukkig nie veel gesteel behalwe die gereedskap by my ouers nie. Die diewe het ’n paar vensters gebreek, maar gelukkig is die skade nie te ernstig nie.”

• Matshwane Nthatisi het bevestig dat een dief by haar woonstel in die Pelican View kompleks in Gholfsig, toegeslaan het.

Sy vermoed die diefstal het om 04:30 Saterdagoggend plaasgevind.

Volgens Matshwane is daar geen teken van geforseerde toegang tot haar woonstel nie, maar haar agterdeur het oopgestaan.

Sy is onseker of sy vergeet het om die deur te sluit en of iemand dalk ’n duplikaat van haar sleutel gemaak het.

Die dief het ’n skootrekenaar, ’n iPad, ’n luidspreker, ’n beursie met minstens R200 se kontant, asook haar wynrakke leeggemaak.

“Hy het omtrent ses of sewe bottels wyn by my gesteel.”

Sy het vertel dat hulle op die CCTV videomateriaal kon sien hoe een verdagte ’n asdrom gebruik om oor die muur te klim.

“Die verdagte het wel nie die gesteelde goed in sy besit op die beeld nie.”

Sy skat die waarde van die artikels wat gesteel is, op sowat R18 000.

• Die Middelburg Observer kon bevestig dat daar ook by huise in Gladiola-, Loerie- en Akasiastraat ingebreek is.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button