Skrywer van kortverhale, het nou ook haar eerste boek bekendgestel

As jy nog nie die die boek, ‘Jou liefde het my uitgeboul’ in jou boekrak het nie, dan moet jy seker maak jy kontak die skrywer so gou as moontlik.

Middelburg se eie Marinda Roos het op 21 September haar boek, “Jou liefde het my uitgeboul” by The Daily Koffiehuis by die Midwater Sentrum bekendgestel.

Marinda was op skool al mal oor liefdesverhale, en het dié boeke verslind. Sy vertelhoe sy party dae sommer boeke in die eksamenlokaal ingesmokkel het.

Nege jaar gelede het sy vir ’n romanse kortverhaalkompetisie ingeskryf en het haar manuskrip die top tien gehaal.

Later het sy haar manuskrip vir Lapa Uitgewers gestuur.
“Tussen die Covid pandemie en almal wat van die huis af gewerk het, het my manuskrip op ’n rak beland.”

In Oktober 2022 skryf sy vir Maroela Media se liefdesverhaalkursus in.
“In die ses weke wat die kursus aangebied is, het ek baie goeie vriende gemaak met die ander kursusgangers.”

Hulle het kontak behou en verlede jaar November is die blog, “Ink in my pen”, gebore.
Daar het al verskeie van haar kortverhale verskyn en kan van hulle hier gelees word:

Die geheime van Lady X

Sleutelhouer aan die Kersfeesboom

Die Valentynsbal

Plekkie by die see

Karools jou doring:

Glo wat jou hart moet glo

Die Bumper Sticker

Maria se gebede

Laasgenoemde kortverhaal speel in ’n konsentrasiekamp tydens die Tweede Boere-oorlog af.

Na die kursus het sy begin skryf aandie boek: “Jou liefde het my uitgeboul.”
Die romantiese boek handel oor die heldin, Melinda Nel, wat ’n fisioterapeut is en spesialiseer in sportbeserings.

Die held, Eben de Kock, speel krieket vir die Proteas. Hy beland in haar praktyk met ’n besering. Die twee het op skool uitgegaan en die liefde vat weer vlam.
Hy het oorgenoeg vroulike bewonderaars, is baie van die huis af weg en is katvoet vir verhoudings. Melinda slaan hom vir ’n ses en boul al sy paaltjies uit.
Dinge verander baie toe sy as die Proteas se nuwe fisioterapeut aangestel word en aansluit by hulle in Engeland.

Marinda verduidelik dat die roman eers na ’n manuskrip-ontwikkelaar toe is. Daar is aanbevelings gedoen en gekyk na foute.

“As skrywer moet jy fokus op diep perspektief en eerder vir die leser wys, as vertel. Daarna gaan jou boek na ’n verslaggewer toe en laaste na ’n redigeerder. Dan is jou boek eers reg om gepubliseer te word.”
Die boek is ’n selfpublikasie en Marinda noem daar is baie voordele daaraan verbonde, soos dat sy haar eie voorblad kan kies.

Haar tweede boek: “Liefste kaalvoet luitenant” is reeds voltooi en verskyn Desember. Dit handel oor Anke Moolman wat as lid van die Valke onder ’n dekmantel gaan werk by ’n lodge. Sy moet uitvind wie smokkel met renosterhorings.
Vir hierdie boek het sy met ’n luitenant-kolonel van die Valke gaan gesels oor hulle werk en die dinge wat hulle elke dag beleef.

• As jy die boek, “Jou liefde het my uitgeboul” wil bestel, skakel Marinda by 082 388 3234.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version