News

Mans wat in ongeluk gesterf het, geïdentifiseer

Die twee mans wat gister in die ongeluk op die ou Middelburg/Witbankpad (R555) gesterf het, is geïdentiseer.

Twee families is in rou gedompel na die ongeluk gister op die R555.

Elvis Hlongwane (52) en Mornay Fouché (50) het beide gesterf in die trompop botsing wat net voor 16:00 naby die selfoontorings plaasgevind het.

Elvis Hlongwane (52).

Mnr. Hlongwane het gesterf in die minibus van CSC Tactical Services wat in die rigting van eMalahleni onderweg was. Mnr. Fouché is oorlede in die Toyota Etios, wat vanaf eMalahleni se rigting na Middelburg gery het.

’n Onlangse foto van Mornay Fouché en sy verloofde, Chantal Bekker. Mnr. Fouché het gister in die ongeluk gesterf.

 

Die bestuurder van die minibus, mnr. Simpiwe Mtsweni, is in die Life Midmed Hospitaal behandel vir beserings en gisteraand 21:00 ontslaan.

Mnr. Fouché

Saam met mnr. Fouché in die voertuig, was sy dogtertjie, Lemay (8) en sy pa, Johnny (80).

Lemay is ernstig beseer en is by die Life Midmed Hospitaal gestabiliseer en gisteraand per ambulans na die die rugbyveld van Laerskool Middelburg geneem, waar sy deur die Rocket Air Mediese helikopter opgepik en afgevoer is na die Alberton Hospitaal.

Mornay se suster, Chalmain van der Berg, sê Lemay (of ‘Lielieblom’, soos sy haar noem) se toestand is kritiek met ’n lewer- en galblaasbesering, interne bloeding en ’n kopbesering.

Lemay (8) en haar sussie, Marinay (12) verlede Kersfees saam afgeneem. Lemay is ernstig beseer in die ongeluk.

 

Oom Johnny is tans in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal waar hy vir ’n ernstige hou teen die kop en beserings aan sy regterarm behandel word. “Hy is baie deurmekaar en die feit dat hy voorheen beroertes gehad het, maak dit nog erger,” sê Chalmain.

 

Oom Johnny Fouché saam met sy kleinseun, Gert (jnr). Oom Johnny het ’n erge hou teen die kop gekry in die ongeluk.

 

Mornay, Lemay en oom Johnny was op pad terug na Middelburg vanaf die mediese rehabilitasiesentrum in eMalahleni by die ooginstituut, waar oom Johnny se vrou, Louise, tans hulp kry na beroertes.

Voor hulle gisteroggend eMalahleni toe is, het Mornay by die munisipaliteit in Middelburg aangegaan om aansoek te doen vir hul ouers vir ’n plekkie by Rivierpark Aftree-Oord, sodat hulle naby hul kinders kon wees. Die bejaarde egpaar het tot onlangs toe nog in Mookgophong (Naboomspruit) gebly.

“Mornay het gisteroggend nog met my oor die telefoon gepraat. Ek was duskant Bethal op die pad en hy het vir my gesê ek moet mooi ry. Ons het vir mekaar gesê ons is lief vir mekaar,” het Chalmain hartseer gesê.

“My broer se dood, is vir my net so erg soos my seun, Macky, se dood in 2008.” Macky was 16 met sy afsterwe.

Sy het haar broer beskryf as ’n dierbare mens “wie se hart op ’n goeie plek was. Hy sou sy laaste vir ander gee.”

Buiten Chalmain en sy ouers, word Mornay oorleef deur sy kinders, Marinay (12) en Lemay (8) en verloofde, Chantal Bekker.

Mnr. Hlongwane

Mnr. Willie Viljoen, takbestuurder van CSC Tactical Security Services, het vertel hoe platgeslaan hulle is met mnr. Hlongwane se dood.

“Dit is hartseer om so ’n briljante werker te verloor. Ons gaan sukkel om weer so iemand te kry.”

Mnr. Hlongwane het aan die passasierskant voor gesit toe die ongeluk gebeur het. Mnr. Viljoen sê hulle weet nog nie presies wat gebeur het nie, maar dit blyk dat die minibus met die trok gebots het en voor die Etios beland het.

Hy sê mnre. Mtsweni en Hlongwane was vanaf Middelburg na eMalahleni op pad om ’n voertuig te gaan haal.

Mnr. Hlongwane was die afgelope drie jaar die toesighouer (supervisor) by die besigheid. “Elvis was ’n fantastiese werker, ’n regte werk-esel. ’n Mens kon altyd op sy knoppie druk, hy was altyd beskikbaar.”

 

Lees meer oor die ongeluk van gister hier: Video: Twee sterf, kind ernstig beseer in R555 ongeluk

 

 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button