Man vertel wat hy op gru-ongelukstoneel gesien het

Een van die motoriste wat eerste op die toneel gestop het na Saterdag se ongeluk waarin drie mense gesterf het, het vertel wat hy gesien het.

’n Man het Saterdag sekondes na die gru-ongeluk op die Stoffbergpad op die toneel gestop om hulp te probeer verleen.

Die man (wat verkies om anoniem te bly) sê hy en sy vrou was op die Stoffbergpad op pad na Middelburg om aan die parkrun by Lavender Mill te gaan deelneem, toe die ongeluk sekondes voor hulle gebeur het.

“Dit moes omtrent 07:40 gewees het,” vertel hy.

Hulle het die stofwolk ’n klein entjie voor hulle gesien en besef dat ’n ongeluk pas gebeur het. “Ons het nie die ongeluk self sien gebeur nie, maar net die stof nadat die twee voertuie langs die pad beland het.”

Hy het dadelik gestop om te kyk of hy kan help.

“Ek het twee mans op die grond, agter die bakkie, op hul mae sien lê, met hul koppe kant toe gedraai. Hulle is uit die bakkie geslinger. Ek het gekyk of hul lugweë oop is. Die een man het probeer opstaan en ek het vir hom gesê om te bly lê. Hy het later opgestaan. Ek het aan die ander man gevat, en hy het gekla dat hy geweldig pyn in sy rug het. Die derde man het teen die skuinste van die wal gesit. Ek weet nie wie van die drie die bakkie bestuur het nie.”

Hy verduidelik dat die silwer VW Polo op die bestuurdersdeur getref is. “Dit het gelyk op die grootste impak op die bestuurdersdeur was.”

Alhoewel van die omstanders op die toneel later vir die joernalis gesê het dat daar drie mense in die VW Polo was en vier in die dubbelkajuit Hilux D4D, het hy gemeld dat daar beslis vier mense was in die VW Polo. Die ander drie was almal insittendes van die bakkie.

“Kort na die ongeluk het ek gedog ek sien nog beweging in die VW Polo.” ’n Ander motoris wat ook op die toneel gestop het, het vir hom gesê hy moenie naby die VW Polo gaan nie.

Hy het genoem met die ambulans se aankoms op die toneel, het hulle ook eerste aandag gegee aan die pasiënte wat op die grond gelê het. Die oomblik toe die polisie opdaag, het hulle vir hom gesê hy kan ry en het hulle die toneel verlaat.

Lees ook:

Drie sterf in ongeluk op Stoffbergpad

Exit mobile version