Boerbok drama: man kry steke na hy glo met baksteen gegooi is

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy die boerbokvrou van Belfast 'n taai klap gegee het, het egter self ernstige beserings opgedoen.

‘n Egpaar is omgekrap oor die bewerings wat Belfast se boerbokvrou, Magda Vermeulen, gemaak het.

“My man, Neels, is met ‘n baksteen in die gesig geslaan en moes steke kry! En hy het nie die bok geskiet nie! Sy wapen was in die kluis tydens die gebeure! Ons weet nie wie die bok geskiet het nie” het me. Denise Joubert omgekrap gesê.

Me. Vermeulen, wat 80 bokke in haar erf aanhou, beweer sy is in die straat aangeval, met ‘n kwad gestamp en geklap. Volgens haar is haar mak boerbok, Donker JR, ook doodgeskiet.

Magda Vermeulen by ’n paar van haar boerbokke.

Volgens haar het haar seun, Sarel haar probeer beskerm deur haar aanvallers met ‘n klip te gooi en toe is hy gearresteer en het twee nagte in die polisieselle geslaap.

Lees die volle berig hier: Blêêêrende boerbokdrama op Belfast

Me. Joubert het hul weergawe van die gebeure geskets.

Sy het begin verduidelik deur te sê dat me. Vermeulen se boerbokke ‘n steen des aanstoots is vir vele inwoners van Belfast.

“Die bokke spring op karre en vreet mense se plante op. Sy bly sowat vier blokke van ons af, maar as sy hier verbykom met haar bokke, dan krap sy my vier honde om.”

Me. Joubert meld dat daar van me. Vermeulen se bokke op ‘n stadium verdwyn het en dat sy hulle sommer beskuldig het dat hul honde die bokke gevang het.

“Ons honde kom nooit uit nie, want daar is ‘n kleuterskool oorkant die straat en al byt ons honde nie, maak ons seker hulle bly in ons erf.”

Sy meld dat me. Vermeulen op die dag wat sy hulle beskuldig het dat die honde haar bokke gebyt het, vir hulle gesê het dat sy ‘n sangoma het en as haar bokkies gebore word, dan gee sy die stertjies vir die sangoma. Ek het vir haar gesê sy moet dan na die sangoma toe gaan en vra dat hy vir hulle sê wie het die bokke gesteel!”

Boonop het die bokke op ‘n stadium by ‘n kompleks langs hulle op die gras gewei en deur die heining hul blomme gevreet.

Mnr. Joubert het die kompleks-eienaar gevra of me. Vermeulen toestemming het om die bokke daar te laat wei. Dis toe dat hulle hoor dat daar nooit toestemming gegee is nie en dat die mense in die kompleks eintlik vies is vir die boerbokke wat hul karre krap en tuine verniel.

Aldus me. Joubert het haar man me. Vermeulen daaroor gekonfronteer, toe sy weer daar aankom, waarop “sy vir Neels geskree het hy is mal.”

‘n Ander keer het Sarel by hul huis verbygestap met die 80-stuks bokke. Mnr. Joubert het hom gevra: “is jy weer in die die straat met die bokke?” Volgens me. Joubert het Sarel hom erg gevloek.

“Daardie Sondagmiddag het Magda weer op haar stoeltjie gesit en brei op die hoek hier naby ons, terwyl haar bokke gewei het.”

Me. Joubert noem dat daar ‘n grondpad oorkant hul huis is en dat haar seuntjie van nege en hul kleinkind verby me. Vermeulen gery het met hul kwads.

“Die kinders het ontsteld by die huis aangekom en gesê: ‘die tannie praat baie lelik.”

Me. Joubert sê haar man het met die kwad tot by me. Vermeulen gery om te hoor wat die probleem is.

“My man se kwad wou nie afsit nie en het hy tot naby haar gery om met haar te praat. Die oomblik toe hy vra waarom sy die kinders gevloek het, het Sarel op hom afgestorm en hom deur die gesig geklap.”

Mnr. Joubert het nog gesukkel om die kwad af te skakel, toe sy kleinkind ook daar aankom en aanbied om met die kwad te help.

“My man was nog besig om van die kwad af te klim, toe Sarel hom in die gesig gegooi het met die baksteen. My man is met die ambulans daar weg. Hy kon sy oog verloor het!”

‘n Paar dae later was mnr. Neels Joubert se oog nog potblou,.

Me. Joubert onthou hoe hul kleindogter by haar aangehardloop gekom het en geskree het dat haar oupa bloei.

Hulle het dadelik ‘n saak by die polisie geopen van aanranding met die opset om ernstig te beseer. “Ons is aangesê om self die J88, wat ‘n dokter invul, by die hospitaal te gaan haal. Dit het egter by die hospitaal weggeraak.”

Me. Joubert sê hulle is ook eers op die dag wat Sarel moes verskyn, omstreeks 12:00 laat weet dat hulle by die hof moes wees, “en toe was dit al verby.”

Sy meld dat hulle beslis nie die saak teruggetrek het nie.

“Magda het nie ‘n merkie aan haar gehad nie en het eers ‘n paar dae nadat ons ‘n saak gemaak het, skielik ook ‘n saak teen my man geopen. Die veediefstal-eenheid van die polisie was ook reeds by Neels oor die bok wat doodgeskiet is. My man het vir hulle gesê dat dit nie hy was wat die bok geskiet het nie.”

 

 

Exit mobile version