Blêêêrende boerbokdrama op Belfast

'n Bok is 'n bliksem word gesê, maar nie vir Magda nie, toe word daar klappe uitgedeel en Donker JR doodgeskiet!

Waarom ’n grassnyer aanskaf as jou troppie boerbokke sommer jou gras en die bure se gras kan kort hou?

Magda Vermeulen sê haar boerbokke is nie net ’n “tuindienste’” nie, maar sorg vir ’n inkomste vir haar en haar seun, Sarel.

Maar nou het Magda se vierbeen tuindienste sommige Belfast inwoners só warm onder die kraag dat dit op ’n geveg uitgeloop het wat Dricus du Plessis sou beny.

Om dit sagkens te stel, is van die Belfasters behoorlik die b(m)oerbok in vir die 80 blêrrende bokke wat gereeld die strate invaar.

So woedend dat haar geliefde boerbok, Donker JR, doodgeskiet is.

Al die aanrandingsake is later teruggetrek, maar die saak oor ‘Donker JR’ se dood, word nog ondersoek.

Magda sê haar erf in McDonaldstraat is gróót en haar bokke hou die gras kort waar hulle wei.

“Van my kliënte sny nie eers meer hulle gras self nie en ander het die tuindienste gestop, want ek bring net my bokke en dan vreet hulle die gras kort. Dit is my en Sarel, se inkomste, want hy werk nie nou nie. Hulle is oral waar ek is.”

Elke bok het ’n naam. Daar is Kersiepit, Bollawol, Whiskey, Bruin JR, Ligte JR en natuurlik, Donker JR. Dis oor die einste Donker JR wat sy trane afvee. “Hy was nog klein en was mak. Hy was by my, toe hy in die straat doodgeskiet is!”

Magda sê haar bokke was juis besig om te wei om gras in ’n erf af te vreet, toe sy “aangeval” is.

Sy beweer sy is met ’n kwad omgestamp, waarna sy teruggeveg het met haar sweep teen die persoon. Volgens haar het die aanvaller en sy familie haar ook met die plathand bygedam.

“Sarel het probeer om hulle van my af te hou en het ’n klip na hom gegooi, wat die man getref het. Sarel is gearresteer en het twee aande in die tronk geslaap!”

Magda het verder beweer dat haar aanvallers ook ’n deur van haar huis beskadig het.

                                                     Sarel Vermeulen.

 

 

 

 

Exit mobile version