Oudspelers kuier saam tydens Curriebeker wedstryd

Oudspelers kom die naweek weer by die Mbombela bymekaar.

Die jaarlikse samekoms van oud rugbyspelers vind weer Saterdag in die Mbombela Stadion plaas wanneer die Vrystaat Cheetahs en Pumas mekaar in ’n Curriebeker wedstryd pak. Die spanne spook dit uit vir ’n plek in die halfeindstryd met die Vrystaters op 25 een punt voor die Laevelders.

Hierdie jaar is die reunie ook vir oud Laeveld en Puma spelers wat nogal ’n jammerte is.

Die aanvanklike gedagte agter die reunie was om die Suidoos-Transvaal span wat die Westelike Provinsie in ’n Lionbeker wedstryd in 1983 geklop het bymekaar te kry.

Die heelagter Harry Muller, skrumskakel Klasie la Grange, vleuel Kallie Grobler en agsteman Jorrie Jordaan wat in daardie span gespeel het, is reeds oorlede.

Omdat die getalle vanaf die unie se stigting in 1969 uitgedun is en min spelers ver kan reis, is later besluit om al die legendes van Suidoos uit te nooi.

Die laaste twee jaar was dit spesiaal om ysters soos Sybrand Botes, Jan Loubser, Jan Erasmus, Hendry van Tonder, Piet Craven, Gert la Grange en Richard Cooke by die byeenkoms te sien, wat puik deur Mpumalanga Rugby-unie aangebied is.

Botes het vanaf 1970 tot 1975 vir Suidoos op senter uitgedraf.

Jarelange administrateurs wat ongelooflik baie vir rugby opgeoffer het sonder enige vergoeding soos Gerrie Gerrits en Julius Weber was ook by die Nelspruit weersiens.

Die Suidoos-Transvaal verteenwoordigers is ’n eksklusiewe groep wat onder die vaandel van die grys trui en varkoor gespeel het. Dit is kosbaar en moet gekoester word.

Wyle Attie Louw het vir jare baklei dat Laeveld onafhanklik moet funksioneer wat sy reg was maar dit is weer ’n eksklusiewe groep op hulle eie.

Net so het die Puma professionele spelers ’n totaal ander identiteit.

Daar is nie eers ’n vergelyking tussen die ou busryers en hamburger-brigade en die spelers wat rande verdien nie.

Die huidige Puma afrigter, Jimmy Stonehouse, is een van die min betrokkenes wat kan spog dat hy ’n varkoor man en ’n Puma is. Hy het vanaf 1991 tot 1995 14 wedstryde vir Suidoos op haker gesak.

Arrie Myburg kan by 082 786 5894 geskakel word vir meer besonderhede oor die reunie.

Exit mobile version