News

Vyf nou in hof vir R2 miljard dwelmfabriek

Die hofverrigtinge waar vyf mans aangekla word nadat ’n dwelmlaboratorium oopgevlek is, sal binne die volgende paar minute begin.

Die vyf mans wat aangekla word nadat ’n R2 miljard kristal-metamfetamien dwelmlaboratorium deur die Limpopo Valke op ’n plaas by Groblersdal oopgevlek is, verskyn vandag weer in die hof.

Die borg-uitspraak van Roelof Frederik Botha (57), die plaaseienaar van Thaba E Monate en Simphiwe Melvin Khumalo (34) gaan vandag voort.
Hulle verskyn saam met drie Meksikaanse burgers in die Groblersdal landdroshof.

Die Meksikaners, Alejandro Gutierrez Lopez (43), Jorge Humberzo Gonzalez (53) en Ruben Vidal Rodriguez (44) het voorlopig hul aansoeke om borg laat vaar.

Die Limpopo Valke het op 19 Julie op die plaas toegeslaan en is die mans gearresteer. Die polisie het beslag gelê op 408,95kg asetoon en kristal-metamfetamien.

Tydens die groep se vorige verskyning is twee stelle foto-albums, wat die dwelmlaboratorium uitbeeld, deur die staat hanteer.

Een stel foto’s is deur die ondersoekbeampte, sers. Ntutu Monene met sy selfoon geneem en die ander is deur die polisie van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum geneem.

Vandag sal die kruisondervraging deur die verdediging voortgesit word, waarna landdros Bogi Mashele uitspraak sal lewer op die borgaansoek van Botha en Khumalo.

Die mans staan tereg op klagtes van die vervaardig van onwettige dwelmmiddels, handeldryf in die middels, of alternatiewelik die besit daarvan, asook geldwassery.

Die staat voer aan dat hulle die beweerde misdade met ’n gemeenskaplike doel gepleeg het.

Omdat die dwelms ’n geskatte waarde van meer as R1 miljard het, maak die klagtes deel uit van ’n skedule vyf oortreding, en staan die staat dus hul borgaansoeke teen.

 

Do you have information on a news story you think we should cover?

Please send an email to our Editor at daleen@mobserver.co.za or phone us on 072 248 3855.

To keep updated and informed on all the latest Middelburg news, visit our official social media pages:

FacebookInstagram, TikTokX (Formerly Twitter), and YouTube.

Back to top button