News

VIDEO: Man vir 50m gesleep, vasgedruk tussen trok en bakkie

’n Gesin glo dit is ’n absolute wonderwerk dat hul broer leef, nadat hy Sondag, vasgedruk tussen ’n trok en ’n bakkie, 50m ver gesleep is.

Die man wat Sondag ernstig beseer is toe ’n trok teen die afrit by Alzu Petroport weggehardloop en hom vasgepen het tussen die trok en die bakkie, word steeds in die intensiewesorgeenheid van die Life Midmed Hospitaal behandel.

Die familie van Pieter van Niekerk (54) sê dit is ’n wonderwerk dat hy die ongeluk oorleef het. “Sy bekken is vergruis en hy het ’n oop beenfraktuur, wat lyk soos ’n winkelhaak, waaraan hulle nie kan opereer nie,” sê sy suster, Erika du Plooy, wat pas met die Middelburg Observer gepraat het.

Sedert sy opname in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal, was hy aan ’n lewensonderhoudende masjien gekoppel en was hulle dankbaar dat dokters hom vanoggend kon wakker maak.

Pieter van Niekerk word in die intensiewesorgeenheid behandel. FOTO: Verskaf deur die familie.

“Die dokter het my suster, Mariana Borges, wat sedertdien in Middelburg in ’n gastehuis bly om naby hom te wees, geskakel en gesê sy moet kom, want hy skree van pyn,” sê Erika.

Sy het vertel van die geweldige trauma van die ongeluk, asook die afgelope paar dae weens sy ernstige beserings.

Pieter het saam met ’n paar lede van sy gesin (almal van Gauteng afkomstig) die naweek in Machadodorp deurgebring waar hulle vis gevang het.
Op pad terug Gauteng toe, het hulle in ’n konvooi saam op die N4 gery.

Pieter van Niekerk het die naweek saam met familie vis gaan vang in Machadodorp en het die ongeluk gebeur op die N4 pad terug na Alberton.

Net voor die Alzu Petroport het Pieter vir die ander per selfoon laat weet dat hy gou gaan stop om brandstof in te gooi, hulle kan maar aanhou ry.
By hom in sy bakkie, was sy suster Thriesa, haar man Ulrich en hul 16-jarige seun, Joshua.

Nadat hulle brandstof ingegooi het, het hulle links gedraai om weer op die N4 verder te ry.

Hulle het die trok, wat teen die afrit gestaan het, gesien en het Pieter ’n hele ent voor die trok gestop om koeldrank agter uit die bakkie te haal.

Joshua wou dadelik uitspring om die koeldrank te kry, maar Pieter het gesê hy sal dit uithaal.

Sekondes nadat Pieter uitgeklim het, het die insittendes die slag gevoel en gehoor.

Die trok het twee karre in die parkeerarea ook getref.

Met die impak het Thriesa agtertoe gekyk en gesien hoe die trok vir Pieter vasdruk en hulle begin sleep.

“Die bakkie se neus het gedraai, waarop die trok daarna weggehardloop het na die parkeerarea.”
’n Ooggetuie (wat anoniem wil bly) het vroeër die week gesê dat hy gesien het hoe die trok weghardloop en het hy dadelik ’n ambulans gebel, toe hy vir Pieter langs die bakkie sien lê.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/08/14/ooggetuie-vertel-van-wegholtrok-by-alzu-petroport/

Pieter is na Life Midmed toe geneem, waar die familie ’n betaling gemaak het sodat hy in die intensiewe-eenheid opgeneem kon word.
“Die mediese kostes is astronomies. Dit gaan omtrent R2 miljoen beloop vir sy behandeling,” sê Erika.

Hulle is die dag na die ongeluk ingeroep deur die dokter, wat hulle meegedeel het, dat sy bekken so ernstig gebreek is.
“Hulle sê sy bekken moet soos ’n legkaart weer aanmekaar gesit word, omdat dit so erg gebreek is.”

Erika praat net met lof van die behandeling deur die hospitaalpersoneel, en in besonder dr. Zelda Henning “wat so mooi met ons gewerk het en gesê het sy sal hom hanteer, soos sy ’n eie broer sal hanteer. Sy is net amazing.”

Die toneel in die parkeerarea.

Erika noem dat dit nie net die hospitaal is wat hulle so goed behandel nie.
“Ons het ’n gastehuis gesoek waar ons kon tuisgaan en het Mariana by Oregan Place uitgekom. Hulle wil nie dat een van ons betaal nie en het gesê dat die gelde wat ons vir hulle sou moes betaal, ons net so in sy Back-a-Buddy fonds moet inbetaal. Dit is net ongelooflik.”

Die familie wil graag vir Pieter oorplaas na ’n hospitaal nader aan hulle in Gauteng, maar is daar nie dadelik ’n bed beskikbaar nie.
Hulle het ook twee Back-a-Buddy fondse geopen om al die mediese en ander uitgawes op ’n manier te probeer dek.

Die een fonds se skakel is as volg:
https://backabuddy.co.za/campaign/preview/pieters-healing-fund

En die ander fonds se skakel is:
https://www.backabuddy.co.za/campaign/help-needed-for-pieter-van-niekerk

Laasgenoemde fonds is gestig deur ROHG Ministries, ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie.

• Erika het hartseer gesê dat dit die tweede keer in twee maande is dat die gesin deur erge trauma gaan. Hul moeder, Henna, is vandag tweede maande gelede oorlede.

• Die familie bedank graag elke persoon en die paramedikuste wat gehelp het op die toneel, die dokters en personeel van die Life Midmed Hospitaal, Oregan Place Gastehuis en elke persoon wat hulle in hierdie tyd ondersteun deur middel van boodskappe en gebede.

• Die polisie ondersoek ’n saak van roekeloos nalatige bestuur.

@middelburgobserver

Man in ICU after being crushed between a truck and his vehicle at Alzu Petroport. #Middelburg #alzupetroportn4⛽ #N4 #accident

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Back to top button