News

Boere doen erge brandwonde op in veldbrande

Drie boere het reeds erge brandwonde opgedoen, wild het doodgebrand en duisende hektaar se weiding is vernietig in verwoestende brande, wat in die meeste gevalle deur brandstigting veroorsaak is.

Die groter Middelburg-omgewing het tot hede reeds meer hektaar weiding in brande verloor in vergelyking met verlede jaar se brandseisoen, en daar lê nog twee maande van brandgevaar voor, sê Helgaardt Muller, voorsitter van die Groter Middelburg Brandbeskermingvereniging.

Muller het boere wat by brandbestryding betrokke is gemaan om veilig te wees, omdat onherbergsame terreine, windsnelhede en hitte brandbestryding kortwiek.

“Daar moes reeds twee boere van die Ermelo-omgewing per helikopter na Milpark Hospitaal afgevoer word, en dan het Sakkie van der Walt, van Elandspruit, ook erge brandwonde opgedoen. Hy sal moontlik vir ’n geruime tyd in die hospitaal wees.”

Muller het gesê dat boere Woensdag in die Loskopvallei, aan die bokant van Kranspoort, ’n reuse veldbrand moes veg wat een van Forever Resorts se plase, De Voetpadkloof, Polfontein en Sungiti geraak het.

“So te sê al die weiding op Polfontein en De Voetpadkloof is vernietig, naas die wild wat doodgebrand het, en ons is reeds besig om te soek na iemand wat grasbale verkoop vir voer vir die wild. Daar is ook gerugte dat die brand by ’n kompong op een van die plase ontstaan het.”

Afgesien van die groot brand, vertel Muller dat daar terselfdertyd gevalle van brandstigting langs die N11 was.

“’n Silwerkleurige Volkswagen sedan word hiermee verbind. Ons was nog besig om teen die brand te stry, toe die voertuig se insittendes die padreserwe aan die onderkant van die poort aan die brand gesteek het.”

Die silwer Volkswagen het ’n GP nommerplaat, en ’n wit Volkswagen met vervalsde Mpumalanga nommerplate, word ook met brandstigting verbind.

“Ek spreek graag my opregte dank uit aan elke persoon wat betrokke was en steeds is om hierdie monster te stuit. Wees asseblief paraat en waaksaam en stel julle veiligheid ten alle tye eerste,” het Muller afgesluit.

• Volgens Muller word brande sporadies gestig, maar is daar soveel as vier tot ses gevalle van brandstigting per naweek. Die twee boere van Ermelo se identiteit is onbekend.

Lees ook:

GRAFIESE INHOUD: Elandspruit boer veg vir lewe na hy erge brandwonde in veldbrand opdoen

Boere ly onder brandstigting – provinsiale ramp verklaar

Video: Verwoestende vuur verswelg weiding, bokke en voertuig

Back to top button