GRAFIESE INHOUD: Elandspruit boer veg vir lewe na hy erge brandwonde in veldbrand opdoen

As diabeet veg ’n brandslagoffer nou teen infeksie en moet hy dringend na ’n brandeenheid oorgeplaas word.

Dis ’n gejaag teen tyd om die 68-jarige Sakkie van der Walt, ’n boer uit die Elandspruit omgewing, betyds by ’n brandeenheid te kry nadat hy eerste-, tweede- en derdegraadse brandwonde oor sy hele lyf in ’n veldbrand opgedoen het.

Volgens Sakkie se stiefdogter, Chané Heroldt, is haar ma, Leatitia, tans besig met reëlings om haar man na die Life Midmed Hospitaal oor te plaas nadat hy op 3 Augustus op sy Elandspruitplaas op die ou Witbankpad vasgekeer was.

Chané het verduidelik dat boere die dag reeds die brand onder beheer kom kry, maar dat dit weer opgestaan het en dat Sakkie met sy trekker en waterkar uit is om die vuur te bestry.

Die wind het egter van rigting verander en is Sakkie was in die vlammehel vasgekeer.

Die brandwonde aan Sakkie se gesig.

’n Plaaswerker het op die erg verbrande Sakkie afgekom, en het met die trekker met hom uit die brand gejaag. Die vuur was egter óo geweldig dat die waterkar vernietig is.

Sakkie is in die Wolwekrans (Impungwe) Hospitaal opgeneem waar hy sedertdien behandeling ontvang.

“Die diens by Impumgwe was vinnig, puik en hulpvaardig,” het een van Laetitia se boodskappe gelees.

FOTO: Verskaf.

Sakkie is egter ’n diabeet, en het ’n privaat dokter aanbeveel dat hy dringend na ’n brandeenheid oorgeplaas word.

“Die dokters by Impungwe het vir ons gesê dis nie nodig om hom oor te plaas nie en dat sy wonde erger lyk as wat hulle is. Maar die hospitaal het nie die fasiliteite om die nodige behandeling te voorsien nie. Hy moes lankal teater toe gegaan en geskrop geword het. My stiefpa gaan dood van die pyn, en hulle gee hom nie die nodige verdowing daarvoor nie,” het Chané vir die Middelburg Observer gesê.

Sakkie het nie ’n mediesefonds nie, en skarebefondsing is intussen begin om te help betaal aan mediese kostes.

Die wonde aan sy arms.

In ’n WhatsApp boodskap wat deur Leatitia gesirkuleer is, sê sy die volgende:

“Saterdag die 10de het ek al begin vra dat Sakkie oorgeplaas moet word na ’n hospitaal met ’n brandeenheid. Ek het die dokter gekonsulteer en daar word net gesê dis nie nodig nie. Ons het privaathulp en raad gekry, en die wrede waarheid is dat as Sakkie nie vanaand al oorgeplaas word nie, sal dit sy dood veroorsaak. Bid asseblief. Ek vra asseblief, ons het krag en ondersteuning nodig. Bid asseblief dat ons ’n oorplasing kry, hy moet teater toe, hy moet sedasie kry, hy moet in die intensiewesorgeenheid opgeneem en geïsoleer word.”

Sy hande is tans toe verbind, maar hy moet homself voer en badkamer toe neem.

Diegene wat graag finansiele bydraes wil lewer kan die volgende skakel besoek:

https://www.backabuddy.co.za/campaign/sakkie-van-der-walt-burn-victim-survivor

Exit mobile version