News

Ooggetuie vertel van wegholtrok by Alzu Petroport

’n Man het ’n ernstige beenbesering opgedoen tydens die gebeure Sondag by die Alzu Petroport waar ’n wegholtrok hom en drie voertuie getref het.

’n Ooggetuie van die trokongeluk Saterdag by die afrit by die Alzu Petroport op die N4 sê hy wil net graag weet hoe dit met die man gaan wat deur die trok getref en ’n ernstige beenbesering opgedoen het.

Die ooggetuie (wat anoniem wil bly) was besig om af te ry by die afrit in Middelburg se rigting, toe alles voor die ooggetuie en die passasiers in sy kar se oë afgespeel het.

“My vrou bid al vandat dit gebeur het vir die man, wat weggestamp is deur die trok. Sy been het baie erg seergekry en ons wil net weet hoe dit gaan. Hy het kort na die gebeure een of twee keer gesê: ‘my been, my been’, maar het net daarna sy bewussyn verloor. Hy het baie baie seer gekry.”

Hy meld dat die trok nie in die parkeerarea was nie, maar teen die skuinste van die afrit gestaan het, soos wat ’n mens van die brug af ry op die N4 in Middelburg se rigting.

Hy vermoed die trokdrywer het daar gestop om gou iets te gaan koop, sodat hy nie met die groot vrag in die parkeerarea moes deursukkel nie, omdat daar besonder baie voertuie was in die parkeerarea.

Die man onthou dat daar sowat 30 treë voor die trok ook ’n bakkie gestaan het.
“Ek het later met die passasier van die bakkie gepraat, wat gesê het hulle het gou teen die afrit gestop, want die ander persoon wou net iets agter uit die bakkie haal.”

Hy meld dat hy en sy vrou vanaf die parkeerarea gery het en net links wou draai om teen die afrit af te ry, toe die trok teen die afrit begin weghol.
“Ek weet nie of daar iemand in die trok was op daardie stadium nie, ek het net gesien hoe die trok begin hardloop.”

Hy stel dit duidelik dat hy nie gesien het toe die trok die man, wat agter die bakkie gestaan het, getref het nie, “want die reuse trok was tussen ons en die bakkie.”

Met die spoed wat die trok weggehol het, het die trok die man agter die bakkie en die bakkie getref, daarna teen die wal af geploeg, deur die draad en oor ’n muurtjie, waarna dit twee voertuie in die parkeerarea ook getref het.

Die trok het in twee voertuie vasgery.

“Ek was naaste aan die toneel waar die man getref is en het gestop en nader gehardloop. Die beseerde man het met sy kop by die wiel van die bakkie gelê. Ek het dadelik ’n ambulans gebel. Die ambulansdiens het my later drie maal teruggebel om te hoor of dit ek was wat seergekry het. Hulle wou ook op ’n stadium met iemand op die toneel praat, maar teen daardie tyd het ons al gery.”

Binne sekondes het hordes mense aangehardloop gekom en het ’n persoon geskree dat ’n ambulans gebel moet word.

Iemand het ’n kussing onder die beseerde man se kop ingedruk en ’n kombers oor hom gegooi.

“Een vrou het met ’n groot rooi noodhulptas soontoe gehardloop. Teen daardie tyd was daar al so baie mense daar wat hulp aangebied het, dat ons besluit het om te ry, want ons was vier mense in die voertuig en almal was ontsteld oor die gebeure.”

Eers nadat hulle ’n hele ent weg was van die ongelukstoneel af, het hy besef dat hulle nooit die man wat beseer is, se naam gevra het nie.

• Enige persoon wat weet hoe dit met die persoon gaan wat beseer is, word gevra om Daleen Naudé by 013 243 1434 of 072 248 3855 te skakel.

@middelburgobserver

Alzu Petroport accident footage. Video footage of the truck accident that took place at the N4 Alzu Petroport on Sunday, August 11.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Check Also
Close
Back to top button