Jong bakker op Taste Master Junior te sien!

Daar sal vir die eerste keer ’n junior wenner aangekondig word in die SAUK se Taste Master televisiereeks en een van Middelburg se jongelinge sal daarop verskyn.

Die 14-jarige Markus de Klerk, ’n graad agt leerder van Hoërskool Middelburg, is een van 12 jeugdiges wat gekies is om deel te neem aan die realiteitsreeks wat op 30 Julie om 19:00 op SAUK kanaal 2 sy eerste uitsending maak.

Volgens Theonilde de Klerk, Markus se ma, is Markus lief daarvoor om te bak, en het hy tuis onder sy ma se toesig geleer.

“Hy het besluit om in te skryf vir Taste Master Junior, en is na die uitdunne as een van 12 kinders gekies om aan die kompetisie deel te neem.”

Die verfilming van die program het tydens die skoolvakansie plaasgevind, en moes die De Klerk-gesin vir twee en ’n half weke Kaap toe gaan daarvoor.

Volgens ’n persverklaring, wat deur Taste Master vrygestel is, is dit die bekendstelling van Taste Master Junior se eerste reeks waarin 12 van die land se beste bakkers tussen die ouderdom van 13 tot 17 voorgestel sal word.

Die kompetisie word beoordeel deur die bekende Zola Nene en Fritz Schoon, met ’n bedrag van R200 000 as hoofprys op die spel.

In ’n kort biografie word Markus as deelnemer voorgestel as ’n 14-jarige van Middelburg met ’n passie vir kook en bak. Hy floreer op gesonde kompetisie en hoop dat sy liefde vir kulinêre kunste na nuwe hoogtes geneem sal word in die kompetisie.

Naas sy passie vir kosmaak, geniet hy ook sport soos swem, atletiek en hokkie.

• Sy liefde vir kook en bak het tydens die grendelstaat vlam gevat, omdat hy meeste van sy tyd spandeer het om kookprogramme op televisie te kyk.
Kook is nie net vir hom ’n stokperdjie nie, maar ’n wyse om homself kreatief uit te leef en sy passie vir kos met mense te deel.

• Inwoners word uitgenooi om Markus se wenpad saam met hom te loop deur volgende Dinsdagaand om 19:00 in te skakel op SAUK kanaal 2.

Exit mobile version