Ouers vra steeds vir gebede vir hul blondekoppie

Klein Renicke Coetzer (22 maande) is nou ’n week in rehabilitasie en vra haar ouers, Nick en Dijané, dat almal steeds vir hul dogtertjie sal bid.

Renicke het op 1 Junie in medikasie gestik en is per helikopeter oorgeplaas na die Garden City Hospitaal waar sy vir meer as ’n maand in die intensiewesorgeenheid behandel is.

Sy is verlede week oorgeplaas na ’n rehabilitasiehospitaal, waar spanne daagliks met haar werk.
Daar is gister vir haar ouers gesê dat sy nog ten minste 12 weke behandeling sal ontvang.

Marietjie Britz (’n vriendin van die gesin), het namens Renicke se ouers op die gebedsgroep wat vir Renicke begin is, almal in kennis gestel dat die dokter hulle meegedeel het dat hulle nie verwag dat Renicke volkome sal herstel nie.

“Hulle het gesê ons moet voorberei dat sy nooit weer vir haarself kan sorg nie en moontelik die res van haar lewe in ’n rolstoel sal wees. Die dokters weet nie of sy ooit weer sal kan loop of haar arms kan gebruik nie.”

Marietjie Britz het hierdie week by klein Renicke Coetzer (foto) en haar ouers by die rehabilitasiesentrum gaan kuier.

Daar is ook gemeld dat die dokter weer aansoek gedoen het vir botox-inspuitings vir Renicke se spastisiteit. “Sy is in baie baie pyn, hulle verduidelik dit dat dit voel soos krampe, in haar voete, kuite, arms, hande, skouers en nek.”

Sy het egter bygevoeg dat “ons bly hoop en glo dat ons Hemelse Vader Renicke ten volle sal genees en dat sy ’n normale pynlose lewe kan lei.”

Dijané het elke persoon wat tot dusver bydraes gelewer het sodat hulle al die rekeninge kan betaal, van harte bedank.
“Ons is ook baie dankbaar vir elke gebed vir ons dogtertjie!”

• Persone wat nog bydraes wil lewer op die BackABuddy fonds wat vir haar begin is, kan ingaan op dié skakel: https://www.backabuddy.co.za/campaign/renicke-coetzer

• Daar word ook gevra dat almal hul Facebookblad sal volg, waar daar gereeld geplaas word hoe dit met haar gaan. Die skakel na die Facebookblad is:  https://www.facebook.com/groups/855789353138766

• Renicke vier op 16 September haar tweede verjaardag en het die eienaar van Amora Dierepark, Marietjie Britz, besluit om ’n partytjie te hou waar die gemeenskap in ondersteuning aan Renicke die dag saam kan kom vier.

Toegang op dié dag (14 September, 11:00-14:00) is R150 per kind, wat eet- en drinkgoed, ’n sleutelhouer, gesigverf en die voer van die diere by die park insluit.

Kinders word gevra om “soos Cowboys en Cowgirls” aan te trek.

Besprekings word vooraf gedoen by 079 450 2336.

• Daar is tans ’n 100-uitdaag waar almal gevra word dat 100 mense vir die volgende 100 ure elkeen R100 inbetaal by die bogenoemde fonds.

Lees meer:

Ma hou haar blondekoppie eerste keer vas, na meer as maand in intensief

Exit mobile version