GOP: AfriForum vat munisipaliteit vas in brief

AfriForum kap na Steve Tshwete Munisipaliteit oor dienslewering.

AfriForum se Middelburgtak het skriftelike kommentaar op die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.

Die Steve Tshwete Munisipaliteit het ’n gekwalifiseerde ouditverslag vir die 2021/22 finansiële boekjaar gehad.

Daar is egter bevind dat die munisipaliteit se operasionele begroting met 87% onderspandeer is. Hoewel die munisipaliteit relatief goed funksioneer, is daar wel ’n gebrek aan dienslewering.

Die tak het die volgende probleme uitgewys en versoek dat dit in die komende jaar aandag geniet:

• Die rioolsuiweringsaanleg moet opgegradeer word. Die aanleg is met tye buite werking met rou riool wat gevolglik in die Olifantsrivier in vloei.

• Die vullisterrein en oorlaaistasies moet beter bestuur word. Met die aanstelling van die huidige kontrakteur het die terrein agteruitgegaan. Onwettige vullisstorting vind ook gereeld om die oorlaaistasies plaas, wat die omgewing versuur.

• Daar moet ligte by die Athlonedam opgerig word. Hierdie kwessie is al in vorige GOP-vergaderings opgehaal, maar die munisipaliteit het nog nie daaraan aandag gegee nie.

• Daar is verskeie oop en onveilige kragbokse waaraan die munisipaliteit aandag moet gee, veral in die lig van koperdiefstalle wat verskeie dorpe lamlê. Misdadigers mag nie vrye toegang tot infrastruktuur geniet nie.

• Die park in Verdoornstraat moet omhein word. Dit sal help om die kinders wat daar speel se veiligheid te verseker en ook verhoed dat motoriste met hul voertuie in die park ry.

• Daar is paaie wat dringend herstel moet word. Hierdie strate is belangrike hoofroetes deur die dorp en die munisipaliteit kan nie bekostig dat dit agterweë gelaat word nie.

“Ons sal aanhou om druk op die munisipaliteit toe te pas om sodoende te verseker dat die Middelburg-gemeenskap se belange op die hart gedra word,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van die AfriForum-tak in Middelburg.

• Inwoners wat AfriForum se Middelburgtak wil ondersteun, kan dié webtuiste besoek: www.wordlid.co.za.

Exit mobile version