News

Boere ly onder brandstigting – provinsiale ramp verklaar

Boere sê dat brandstigters verantwoordelik is vir die vernietigende vure wat nou al weke lank woed en duisende hektaar se weiding verwoes het.

Waar twee brandstigters in Dullstroom deur die polisie “laat gaan is” laat weet ’n boer vanuit Roossenekal dat plakkers herhaaldelik ook hulle plaas aan die brand steek.

• Marthinus Botha van Tiegershoekplaas het vertel dat hulle nou al vir meer as 12 keer teen vure moes veg.

Botha het vertel dat hulle sit met plakkers wat onwettig ’n gedeelte van die grond beset en kwaadwillig die grond aan die brand steek.

Hy het vertel dat die plakkers gereeld met honde wildstroop, en dat hulle die veld aan die brand steek omdat hulle sukkel om te jag as gevolg van die ruig bosse.

“Ons het al ’n kwart van ons winterveld verloor asgevolg van hierdie speletjie.”

Pieter Pieterse het 90% van sy weiding op sy plaas verloor weens ‘n brand wat aan Somaphepa se kant ontstaan en oor die pad gespring het.

• Nadat die Middelburg Observer op 14 Junie berig het oor die geweldige brande in die Elandslaagte omgewing, het boere laat weet dat daar gister aan die Suid-Oostelike kant van Somaphepha weer ’n brand was.

Mnr. Anton Coetzee het homself sterk teen die Steve Tshwete Munisipaliteit uitgespreek, en gesê dat boere se klagtes op dowe ore val.

Die Somaphepha nedersetting val onder die munisipaliteit, maar geen brandbuffers is in plek gestel om die dorpie nie, wat jaar na jaar verantwoordelik is vir die ontstaan van brande.

“Die inwoners gooi hulle as in die veldjie oorkant die pad, en dan versprei daardie brande van plaas na plaas.”

Pieterse Boerdery het op 13 Julie 90% van hulle weiding as gevolg van die brand verloor.

’n Foto van die brande in die Dullstroom omgewing.

Intussen het Coetzee bevestig dat daar Maandag, Dinsdag, en gister weer brande om Somaphepha was en dat minstens 20 hektaar Dinsdag aan die Suidoostelike kant van die nedersetting afgebrand het.

“As die munisipaliteit net om Somaphepha dinge sou veilig maak, brandbane maak en paaie stoot, dan sou dit baie help. Boere moet so gou moontlik eise teen die munisipaliteit instel vir skade.”

Coetzee het ook uitgewys dat “dissipline rondom vuurmaak” in landelike gemeenskappe ook nie toegepas word nie.

“As dit koud is sal mense in die veld vuur maak om hulle hande warm te hou, maar hulle sal ook nie die brand blus as hulle wegbeweeg nie.”

• Boere in die Loskopvallei moes ook Saterdag saamstaan nadat ’n brandstigter die veld agter die Damwalkompleks aan die brand gesteek het

Volgens Helgaardt Muller, die voorsitter van die Groter Middelburg Brandbeskermingsvereniging het ooggetuies gesien hoe ’n trokbestuurder sy trok langs die pad gestop het.
“Die bestuurder het iets aan die brand gesteek, dit in die veld in gegooi en daarna weer in sy trok gespring en weggejaag.”

Die brand het opbeweeg na die Matoti Wilderniskamp, maar boere kon gelukkig die brand onder beheer kry.

“Matoti het nie groot skade gely nie, maar dit los nie die brandgevaar vir buurplase op nie.”

Volgens Muller het Kranspoort, Forever Resorts en verskeie ander boere almal ingetree om die brand te beveg.

• Mnr. Muller het bevestig dat daar Dinsdag ook aan die Suidwestekant van die Loskop Natuur Reservaat ’n brand opgestaan het, wat baie vinnig onder beheer gebring is deur lede van die parkeraad en die Working on Fire span.

“Die komende brandverbod sal op 1 Augustus in werking tree, en ons vra die mense se samewerking sodat dit nie sal nodig wees om iemand te vervolg nie. Die feit dat daar ’n brandverbod is, keer ook nie grondeienaars om op ander wyse brandbane te maak nie,” het Muller afgesluit.

Dudley Hartley (Dullstroom) se V8 Landcruiser het heeltemal uitgebrand.

• Daar is vroeër die week deur die Middelburg Observer berig oor die vernietigende brande tussen Dullstroom en die N4 by Entokoweni (Machadodorp) wat meer as 32 000ha se weiding vernietig het.

Mnr Rudi Combrink het vertel dat hulle twee kwaaddoeners vir brandstigting gevang het, en aan die polisie oorhandig het, “ons was die selfde middag nog besig om vuur te slaan toe sien ons hoe stap hulle verby.”

• Die DA het vandag in ’n mediavrystelling verklaar dat hulle daarin kon slaag om die provinsiale regering so ver te kry om die brande as ’n provinsiale ramp te verklaar.

Die LUR vir die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingssake, Nompumelelo Hlophe het gister ’n provinsiale ramp verklaar. Die departement sal die skade ondersoek en die nodige ondersteuning bied.

Lees ook:

Video: Verwoestende vuur verswelg weiding, bokke en voertuig

Video: Boer verloor 90% weiding in brand, wat voorkom kon gewees het

Waarskuwing: Verkeer kilometers opgehoop na kettingbotsing weens rook op N4

Back to top button