News

Twee maande oue dogtertjie kritiek, mediese rekeninge hoop op

’n Egpaar wat vir ses jaar vir ’n kindjie gebid het se twee-maande oue dogtertjie is kritiek siek in die hospitaal.

Klein Marioné van Nieuwenhuizen is op Moedersdag vanjaar, “pragtig en perfek” gebore, en sien haar ouers haar as ’n klein wonderwerk.

Sondag het sy nog gereageer soos enige ander oulike twee maande oue baba, maar Maandagoggend het sy skielik baie siek geword.

Marioné se ouers, Tiaan en Marion, het hulp gaan soek by die plaaslike amulansdienste, wat voorgestel het dat daar dadelik met haar gejaag word vanaf Groblersdal na die Life Midmed Hospitaal.

Met haar aankoms, moes hulle haar hartjie twee keer skok weens onreëlmatige hartkloppings.

Daar is nog nie ’n spesifieke diagnose gemaak nie, maar daar is wel ontdek dat Marioné ’n longinfeksie of virus opgedoen het, wat haar hartjie aantas.

Tiaan het vir die Middelburg Observer gesê dat die plan was om Marioné na Steve Biko oor te plaas, maar toe die ambulans opdaag, het haar hartjie gaan staan en die oorplasing is geweier.

Marioné word tans nog in die intensiewesorgeenheid behandel.

Marioné is daarna op asemhalingsmasjiene in die neonatale intensieweeenheid geplaas.

“Die dokters is tans nog besig met bloedtoetse om te bepaal wat fout is, maar hulle vermoed sy ly aan septiese skok. Ons is nie seker wat die oorsaak is nie,” het Tiaan gesê.

Hy meld dat Marioné se toestand intussen drasties vererger het en dat haar organe daardeur aangetas word.

“Ons het vir ses jaar gebid vir haar, en na twee-maande met ons kind gaan dit so.”

Die van Nieuwenhuizens het nie ’n mediesefonds nie, en het ’n BackABuddy fonds gestig, omdat hulle hulp benodig met die mediese kostes.

“Dit kos ongeveer R86 000 vir twee aande in die intensiewesorgeenheid, met doktersfooie, bloedtoeste en X-strale uitgesluit.”

Indien enigiemand bydraes wil lewer, kan die volgende skakel besoek word:

https://www.backabuddy.co.za/campaign/marion-van-nieuwenhuizen

Back to top button