Afleweringsdrywer steel glo eie motorfiets

’n Sakeman het in ’n oggend se tyd sy verhuurde afleweringsmotorfiets aan diefstal verloor en weer teruggekry.

Mnr. Thys Horak beweer dat ’n drywer, wat een van sy motorfietse huur, die motorfiets gesteel het.

Mnr. Horak is vroeg vanoggend deur die drywer gekontak en laat weet dat die motorfiets by sy woning in Mhluzi gesteel is.
Hy het vir die drywer gesê dat hulle saam polisiestasie toe moet gaan om ’n saak te maak.

Mnr. Horak het egter versteekte opsporingsstelsels op sy motorfietse, en het na die oproep die stelsel nagegaan waar hy gesien het dat die motorfiets skaars 200 meter van die drywer se huis af is.

Die opsporingstelsel het hom na ’n ander huis geneem, en hy het sy motorfiets in ’n kamer gevind.

Volgens mnr. Horak het die inwoners aggressief geraak en hy het dadelik vir Arthur Hill, van Dagpatrollie, gebel om bystand te verleen.
Mnr. Hill het op sy beurt die SAPD gebel en hy en die polisie is dadelik na die toneel toe.

Daar is dit bepaal dat die motorfiets versteek was in die huis van die drywer se familielid. Die drywer het intussen verdwyn.

“Die drywer is fort met die motorfiets se sleutels, lisensieskyf en die afleweringsboks.”

Volgens mnr. Horak sal dit hom duisende rande kos om die gesteelde items te vervang, en het hy besluit om die drywer kans te gee om die goed terug te gee, voordat hy ’n saak maak.

“Die polisie was op die toneel en het my gevra of ek ’n saak wil maak. Maar ek het aan die familielid verduidelik, en ook vir die drywer ’n boodskap gelos om te sê dat dit gaan afhang of ek ’n saak gaan maak of nie, as hy die goed teruggee.”

• Die verdagte se identiteit is bekend aan die Middelburg Observer, maar mag nie geïdentifiseer word nie, omdat hy nie aangekla is nie.

Exit mobile version