Video: Verwoestende vuur verswelg weiding, bokke en voertuig

Duisende hektaar weiding is verwoes en verskeie bokke het doodgebrand in ’n verwoestende brand verlede week op plase om Dullstroom.

Boere vanaf die Dullstroom omgewing tot by Machadodorp teen die N4 het die afgelope week letterlik uit die as opgestaan nadat sowat 32 000 hektaar weiding afgebrand het.

’n Noodfonds is ook deur die Platorand Area Brandbestrydings en Dullstroom Boerevereniging begin om nie net boere in Dullstroom nie, maar ook boere in die hele Platorand wat skade gely het met die brande, te help met voere deur die winter.

Thys Prinsloo, bestuurder van die Platorand Area Brandbestrydingsvereniging, het bevestig dat die brand op 7 Julie een van die ergstes was wat hulle nóg beleef het.

Volgens hom is daar die afgelope drie weke al talle kere teen brande baklei.

Die area waar daar op 7 Julie ten die brande geveg is.

“Die N4 moes ook twee keer verlede week toegemaak word in die omgewing van Berg en Dal (naby Belfast) toe brande en erge rook oor die pad veroorsaak het dat daar geen sig vir motoriste was nie.

Hy het verder gesê dat “terwyl ek met jou praat, spanne besig is om weer teen brande op plase in die Platorandarea te baklei.”

Die boere van Dullstroom het egter al vanaf 5 Julie ’n stryd gevoer teen brande wat oral opgestaan het.

Die vure kon van ver af gesien word.

V8 Landcruiser vat vlam, ontplof

Dudley Hartley se voertuig het vlam gevat en moes hy weghardloop toe dit ontplof het.

Hy vertel dat sy voertuig egter nie met die brand op 7 Julie uitgebrand het nie, maar met ’n wegholbrand ’n dag vantevore op sy plaas.

“Dit was ’n fratsongeluk!”

Dudley het met sy span gejaag om ’n brand te gaan keer wat op die plaas begin het.

Hy het deur die veld gery en het skielik gesien dat daar “’n klein vlammetjie onder die voertuig is. Ek het gejaag vir die dam, want die brandspuit het omgeval en al die water het uitgeloop. Daar is ook nie sein op daardie deel van die plaas dat ek vir hulp kon bel nie.”

Die brand het egter oral in die voertuig versprei en Dudley het besef dat sy lewe in gevaar is.

Hy het uitgespring, weggehardloop en magteloos toegekyk hoe die vlamme die hele voertuig verswelg en ontplof.

Dudley Hartley se V8 Landcruiser het heeltemal uitgebrand.

Die brand het al sy lyndrade beskadig en was hy hierdie week besig om alles te vervang.

Duley Hartley moes al sy lyndrade vervang.

Dudley meld dat hy 500ha weiding en vier kallers in die brande verloor het. Wat vir hom uitgestaan het, is die ongelooflike samewerking tussen die boere en hul brandspanne om op al die plase te gaan hulp verleen.

Die brandhel van 7 Julie

Die oggend van 7 Julie het ’n brand weer opgestaan anderkant Palmer, net buite Dullstroom.

Met ’n sterk wind wat vlamme aangeblaas het, het die brand oor voorbrande, ’n treinspoor en grondpaaie gespring en ook bo-oor die teerpad gebrand.

Die rook van die vernietigende brande.

Brandspanne van die boere en brandvereniging moes veg vanaf 08:00 tot middernag teen brande vanaf Palmer, regdeur Dullstroom en Belfast, wat afgegaan het tot by Machadodorp, Helvitia en Bambi en teen die N4 uitgebrand het.


Glo dit was brandstigting

Ian Bottomley, wat ’n gastehuis buite Dullstroom bedryf, het ook vertel van die brand wat sy vuurtonge oral versprei het.

Hy glo die vuur is deur kwajongens aangesteek.

“Met die geweldige koue en wind, het die vure teen ’n geweldige spoed gehardloop!”

Hy sê hy het byna sy bakkie verloor toe hy gejaag het om te gaan help by een van die brande.

Ian Bottomley was gelukkig dat die brand om sy voertuig uitgebrand het en nie die voertuig beskadig het nie.

“My bakkie het vasgesteek in die modder en het die vure al hoe nader gekom. Ek het uitgespring en weggehardloop. Gelukkig het die vuur reg rondom my bakkie weg gebrand en dit nie aan die brand gesteek nie.”

Wat ook vir hom uitgestaan het in al die trauma van boere wat weiding en diere verloor het, is die feit dat almal so saamgestaan het om op almal se plase te help om met hul brandspanne vure te veg.

Benodig mielie- en boontjiereste, wild vreet nie oulandsgras

Rudi Combrink (Elandskloofplaas) is ook van mening dat die vure kwaadwillig aangesteek is.

“Ons het op 6 Julie twee gevang wat vure aangesteek het en aan die polisie oorhandig. Daardie selfde dag, terwyl ons besig was om teen vure te baklei, het hulle verby ons geloop.”

Daar het ook van sy wild in die vure doodgebrand.

“Ek het n volstruis, ’n takbok, rietbokkies, springbokkies en nog ’n paar ander bokke verloor.” Hy weet egter van nog ’n paar boere wie skade gely het nadat bokke doodgebrand het.

Daar het talle bokke in die vuur doodgebrand.

Rudi het 900ha weiding verloor.

Hy meld dat daar wel ander boere is wat oulandsgrasbale begin skenk het.

“Die probleem met wild is dat hulle nie die oulandsgras wil vreet nie.”
Hy het gevra of daar dalk moontlik boere is wat vir die wildsboere mielie- en boontjiereste en sojahooi kan skenk.

Outpost, waar Oppi Plaas Fees gehou is, ook pikswart verbrand

Elzette Labuschagné is Rudi se suster.

Sy noem dat hulle albei hul plase, Outpost en Dullstroom Manor, se weiding verloor het.

Die Oppi Plaas Fees word jaarliks aangebied by Outpost buite Dullstroom.

“Daar is by ons een bok doodgebrand en een van die bokke is beseer en kyk ons na hulle.”

Die hele plaas is pikswart verbrand.

Die meeste plase het al hul weiding verloor.

Dit is die tweede keer hierdie jaar dat hulle skade ly, maar die vorige keer was nie as gevolg van ’n brand nie.

“Aan die begin van die jaar is daar 80 blesbokke by ons gesteel. In dieselfde tyd is daar by Rudi 150 blesbokke gesteel. Ons glo dit is ’n sindikaat wat met honde jag, die bokke skiet en dit dan oplaai.”

• Weens die omvang van die brande op die plase, kan nie ál die boere se verhale vertel word nie, maar is almal se stories soortgelyk aan die bogenoemde met almal wat net pleit vir voer vir hul diere.

Daar is tot laat die nag teen die vure gestry.

Hulp is nog nodig

Alhoewel daar reeds ’n paar skenkings ontvang is, is daar nog ’n dringende behoefte vir voer vir die diere en skenkings om die boere te ondersteun.
Vir meer inligting, skakel Janine Strauss by 082 565 6220.

Die plan is om meer as R350 000 in te samel om boere wat skade gely het in die brande te help.

 

@middelburgobserver

Hellfires around Dullstroom, as farmlands are scorched. #fire #veldfire #dullstroom #farm #farming

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

 

Exit mobile version