Spesialis-eenheid verdink blouligbende van sakeman se moord

'n Taakspan wat Johan Cowan se moord ondersoek, is oortuig daarvan dat die blouligbende hom vermoor het.

Mike Bolhuis se spesialis-eenheid, Specialiced Security Services (SSS), het bevestig dat hulle vermoed dat die blouligbende vir Middelburger Johan Cowan doodgeskiet het.

Morney Vos, die hoofondersoeker van Bolhuis se taakspan, het gister van die inligting waaraan hulle werk in hul ondersoek, gedeel.

Morney Vos.

Johan, ‘n direkteur by Genet Mineral Processing (eMalahleni) is op 16 Junie dood in sy Toyota Hilux GR bakkie gekry. Die voertuig het nog geluier toe hy vroeg die oggend gekry is.
Hy is in die maag en in die ribbes geskiet.

Johan Cowan se Toyota Hilux GR bakkie het nog geluier toe hy gevind is. Johan is in die bakkie doodgeskiet.

Alle aanduidings is dat hy moontlik met sy eie wapen geskiet is.
“Sy wapen vat 10 rondtes. Johan is twee keer geskiet en een van die rondtes het in die linker agterdeur vasgeslaan.”

Daar is drie leë doppies in sy voertuig gevind en daar was nog drie rondtes in die magasyn.

“Vier rondtes is weg en is die moontlikheid nie uitgesluit dat hy dalk op ‘n ander plek geskiet is nie.”

Johan is die aand van 15 Junie uitgeroep na hul maatskappy se nuwe myn in Vanderbijlpark.

Hy en sy vrou, Lunilda, het ‘n reeling dat hulle die hele tyd in kontak met mekaar bly as hy ry.

Met sy terugkeer het hy egter nie meer met haar gepraat nie en het sy bekommerd begin raak.
Sy en Johan se kollegas het aanmekaar na sy selfoon geskakel en het hulle die volgende oggend die hartseer nuus gekry dat hy dood is.

Hulle het Bolhuis se taakspan gevra om die polisie met die ondersoek te help.

Lees ook:

Mike Bolhuis se span help met ondersoek in Middelburg man se moord by Benoni

Vos meld dat die voertuig se opsporingstelsel later nagegaan is en gewys het dat hy net na middernag, om 00:43, skerp gerem het op die N12 naby Delmas.
Dit is ‘n moontlike aanduiding dat die blouligbende hom op daardie tydstip afgetrek en gekaap het.

Sy bakkie het daarna beweeg vanaf die R42 by Delmas, deur die Botleng woongebied, vandaar na Daveyton en Springs, verby die Modderbee Korrektiewe Dienste, tot by Snake Road, waar hy gevind is.

“Hy het waarskynlik teruggeveg, want hy het ook beserings op onder andere sy voorkop gehad.”

Taakspan werk saam met polisie

Vos het adj. Johan Ferreira (Benoni speurtak) geloof vir die werk wat hy doen met die ondersoek van Johan se moord.
“Ek haal my hoed af vir hom. Hy werk baie hard aan hierdie saak. Ons werk goed saam.”

Ander aanvalle

Die aanval op Johan herinner sterk aan ‘n ander geval wat die SSS-taakspan ook ondersoek het

“Die blouligbende het ‘n paartjie gekaap in dieselfde omgewing en die man het teruggeveg, waarop hulle hom in die been geskiet het en afgelaai het. Die vrou se kop het hulle afgedruk agter die sitplekke in en verder met haar gery.

Die vrou is later by Actonville in Benoni gekry, maar het hulle ook die afrit by Snake Road gevat.

Die man het later in sy verklaring gese dat die bende gewapen was met onder andere ‘n Z88, 9mm Parabellum pistool.

“Drie van die kapers het volledige polisie-uniforms gedra en die ander twee was half in polisieklere geklee.”

Die egpaar se bakkie is later by die Limpop grenspos gekry.

• Vos meld dat hulle ook inkyk in ander moordsake waarby die blouligbende moontlik betrokke kon wees.

• ‘n Week voor Johan se moord, is ‘n paartjie op bykans dieselfde plek deur die blouligbende gekaap.

Daar is ook met hulle rondgery en het die kapers hulle later in die veld by die Tsakane woongebied afgelaai.

Lyke al in area gevind

Volgens Vos het ingeligte bronne vir hulle gesê dat daar “al ‘n paar lyke tussen die R42 (Delmas) tot by die N17 langs die pad gekry is.”

Gee inligting deur vir span

• Vos vra dat as daar mense is wat slagoffers was van die blouligbende in die laaste paar jaar, om hul ondersoekspan te skakel by 066 212 5193 (Morney), 060 899 9938 (Wesley Vos ) of 082 222 5821 (Luke Enslin).

Exit mobile version