Motoriste vrees blouligbende en hoofwegrowers se skrikbewind

Is daar 'n verbintenis tussen die blouligbende en die hoofwegrowers wat staalpenne uitgooi?

Die blouligbendes en hoofwegrowers voer ‘n skrikbewind op veral die N12 en is die vraag al baie gevra of dit dalk een groep kan wees.

Hierdie bendes het die hoofweë in oorlogsones verander.

Lees ook:

Blouligbende en kapers het hoofweë in oorlogsone verander

Morney Vos, een van die hoofondersoekers van Mike Bolhuis se taakspan, Specialised Security Services (SSS), sê albei groepe is deel van sindikate.

Alhoewel hulle afsonderlik opereer, is hulle gewetenlose aanvallers wat nie sal skroom om te skiet, sou daar teruggeveg word nie.

Blouligbende

Die blouligbende is ‘n groep wat hulle voordoen as polisielede en veral in die omgewing van Delmas by die R42 opereer.

Hul voertuie is met blou ligte toegerus en hulle stop motoriste, veral nuwe model Toyota Hilux bakkies, op die N12.

Sodra die voertuig stop, kaap hulle die mense en ry met hulle in die Oosrand rond.

In die meeste gevalle dwing hulle die slagoffers om hul bankkaarte se pinkodes vir hulle te gee of kontantoorbetalings te maak. Daarna word die slagoffers in die veld naby informele nedersettings afgelaai en vlug die kapers met die voertuie.

As slagoffers terugveg, word hulle óf doodgeskiet óf ernstig gewond.

Kapers weet waar is kameras

“Tussen die R42 en die N17 aan die Oosrand is daar nie baie veiligheidskameras nie en daar is ook baie verskillende woongebiede en informele nedersettings waarheen hulle kan verdwyn,” sê Vos.

“Die area by Delmas by die R42 is beslis ‘n rooi area!”

Tye van kapings

Hy sê die meeste kapings gebeur vanaf skemerdonker tot laatnag.
“Die kapers weet dit is wanneer die polisie se skofruilings is en ook waar daar nie patrollies deur gedoen word nie.”

Staalpenrowers
Die hoofwegrowers, wat staalpenne uitgooi en dan motoriste roof wat moet stop om bande te ruil, het ook geen genade vir hul slagoffers nie.

‘n Voorbeeld van een van die staalpenne wat deur roofbendes op die hoofweë gepak word.

Hulle val die mense aan en beroof hulle van alle waardevolle items.

In ‘n onlangse geval het twee Middelburgers met hul wapens uit die voertuig geklim nadat hulle noodgedwonge moes stop om die band te ruil.

Die oomblik toe die rowers die wapens sien, het hulle op die egpaar losgebrand en is die vrou ernstig gewond.

Lees ook:

Gewonde vrou op grond bly terugskiet op rowers

Inligting word ingevoer op hul netwerk

Vos sê hulle ondersoek sake van beide die blouligbendes en staalpenrowers.

Alle inligting wat hulle ontvang, word ingevoer in hul “Spiderweb”-netwerk om sake te help oplos.

• Die SSS-taakspan ondersoek ook Middelburger Johan Cowan, se moord. Mnr. Cowan is op 16 Junie in sy luierende bakkie by die Snake Road-afrit in Benoni gevind.
Die aanvallers, waarskynlik die blouligbende, het eers met hom in sy voertuig rondgery en hom daarna geskiet.

Lees ook: 

Spesialis-eenheid verdink blouligbende van sakeman se moord

Mense wat positiewe inligting kan verskaf wat kan lei tot die arrestasies van die blouligbendes of staalpenrowers, kan hul ondersoekspan skakel by 066 212 5193 (Morney), 060 899 9938 (Wesley Vos ), 083 792 0602 (Ben Booysen) of 082 222 5821 (Luke Enslin).

 

Exit mobile version