News

Verskeie voertuie ry oor staalpenne op N12, maand na sakeman doodgeskiet is

Verskeie voertuie het laasnag oor staalpenne op die N12 gery en volg dit net 'n maand na die sakeman, Johan Cowan, doodgeskiet is.

In een van die meeste gevalle waarvan nog gehoor is, het vyf voertuie laasnag oor staalpenne op die N12 gery.

Die voorval het omstreeks 22:22 op die N12 naby die Khaya Oord aan Delmas se kant op die N12 plaasgevind.

Daar is op noodgroepe aan Gauteng se kant oor die voorval gewaarsku en is alle aanduidings dat daar gelukkig nie enige aanvalle of beserings was nie.

‘n Voorbeeld van hoe ‘n wiel lyk nadat dit oor staalpenne gery het.

Die N12 het ‘n roofparadys geword vir aanvallers wat motoriste teiken deur staalpenne of selfs klippe op die pad te gooi, wat veroorsaak dat bande bars en motoriste noodgedwonge moet stop.

Lees ook:

Man ry oor klip, word beroof op N4 waar ander motoris sterf na steekwond

 

Saam met die staalpen-rowers, slaan die Blouligbendes vir die afgelope 10 jaar sporadies toe.

Laasgenoemde groep doen hulself voor as polisielede en stop motoriste, waartydens die insittende in die voertuie gekaap word en in die meeste gevalle later iewers in ‘n veld afgelaai word.

Die staalpen-insident volg net sowat ‘n maand nadat die bekende sakeman van Middelburg, Johan Cowan (49) op 16 Junie dood in sy bakkie by die Snake Road afrit gekry is. Sy voertuig het nog geluier toe dit gevind is.

Hy is twee keer geskiet.

Lees ook:

Direkteur dood in bakkie gekry by berugte Snake Road

 

Johan was ‘n Direkteur van Genet Mineral Processing en is uitgeroep na een van hul nuwe myne op Vanderbijlpark.

Sy ma, Anne Cowan (ook ‘n inwoner van Middelburg), het die volgende dag gesê dat hy die hele tyd in verbinding was met sy vrou, Lunilda.

Lunilda het onrustig geraak toe hy nie meer met haar kontak gemaak het nie en het sy en die werknemers aanmekaar na sy selfoon toe gebel.

Vroeg die oggend is hy in sy luierende bakkie gevind.

Die aanvallers het net sy beursie waarin kontant, asook sy bank- en identiteitskaarte was, gevat.

Sy wapen, selfoon en ander persoonlike besittings was nog in die voertuig.

Kort na die aanval op Johan, is die taakspan van Mike Bolhuis se Specialised Security Services deur Johan Cowan se familie en kollegas aangestel om sy moord saam met die polisie te help ondersoek.

Lees ook:

Mike Bolhuis se span help met ondersoek in Middelburg man se moord by Benoni

  • Die aanval op Johan het net sowat ‘n week na ‘n soortgelyke voorval gevolg, waar waar ‘n paartjie van Gauteng gekaap is.

Hulle moes ‘n voertuig in Middelburg kom afgee en is deur die blouligbende by Delmas gekaap.

Die bende het hulle afgetrek met blou ligte en het aanvanklik vriendelik gevra dat hulle moet uitklim sodat ‘n roetine-deursoeking van die voertuig gedoen kan word.

Die oomblik toe hulle buite staan, is hulle teruggedwing in die bakkie in en is daar teruggedraai na Johannesburg, waar daar later met hulle in ‘n onbekende area rondgery is.

Later is hulle in die veld by die Tsakane nedersetting afgelaai. Die kapers het hul bankkaarte gevat en hulle met wapens gedwing om hul pinkodes te gee.

  • ‘n Plaaslike WhatsApp groep, “Spikings Alzu to N12”, is intussen deur Middelburger Arthur Hill (Dagpatrollie) begin om motoriste in Middelburg en die omliggende streke in Mpumalanga ingelig te hou oor staalpen-insidente op die hoofweë.

Lees ook:

Bly ingelig oor staalpenne op paaie met ‘Spikings Alzu to N12’

 

Al die aanvalle het die N12, asook die N4 in ‘n oorlogsone verander.

Lees ook:

Blouligbende en kapers het hoofweë in oorlogsone verander

Back to top button